Tuesday 24 July 2018

Oondgebakte pannekoek met groentevulsel



Oondgebakte pannekoek met groentevulsel
Daar is verskeie kreatiewe maniere om ’n pannekoek te bak en te vul en dié pannekoek-resep is perfek vir die koue winterweer. Die pannekoek vorm ’n perfekte bakkie vir die heerlike groentevulsel en bedek dit met sy kaasbolaag.
Bestanddele:
1 eetlepel botter
75 g koekmeelblom
125 ml melk
2 eiers, effe geklits
1 ml sout
2 eetlepels botter
150 g brokkoli-blommetjies
1 medium ui, geskil en in 2.5 cm stukkies gekap
1 medium soetrissie, wit vesel en saadjies verwyder en in 2.5 cm stukkies gesny
1 medium ryprooi tamatie, in 2.5 cm stukkies gekap
1 ml sout
1 ml varsgemaalde swartpeper
175 g gerasperde Cheddar kaas
Metode:
Voorverhit die oond tot 220˚C.
Smelt 1 eetlepel botter in die oond in ’n ronde vlak tertbak van ongeveer 23 cm (dit neem ongeveer 2 tot 3 minute).
Meng intussen die meel, melk, 2 eiers en 1 ml sout in ’n kleinerige mengbak. Giet die mengsel in die tertbak met die gesmelte botter. Bak vir ongeveer 12 tot 15 minute of tot goudbruin.
Terwyl jy wag, smelt 2 eetlepels botter in ’n groterige pan op die stoof. Voeg die res van die bestanddele (behalwe die kaas) in die pan en soteer oor medium hitte terwyl jy af en toe roer vir ongeveer 12 tot 15 minute.
Haal jou pannekoekbakkie uit die oond. Sprinkel 50 g van die kaas op die bodem en skep die groentemengsel bo-op.
Sprinkel die oorblywende kaas bo-oor en sit dit weer terug in die oond. Bak vir 5 tot 7 minute of tot die kaas gesmelt is. Heerlik!