Wednesday 6 June 2018

Sjokolade-rolkoek met karamelvulsel



Sjokolade-rolkoek met karamelvulsel
Jy het nodig:
3 eiers by kamertemperatuur
80 ml strooisuiker
2 ml bakpoeier
125 ml meel
60 ml kakao
’n knippie sout
kakao en versiersuiker
1 blik Caramel Treat
1 plak witsjokolade, gesmelt

Só maak ’n mens:

1. Voorverhit die oond tot 200 °C. Voer ’n rolkoekpan met bakpapier uit – spuit ook liggies met kleefwerende kossproei.
2. Skei twee van die eiers en klits die eiergele, die heel eier en strooisuiker goed saam tot liggeel en dik.
3. Sif die meel, kakao, bakpoeier en sout oor die eiermengsel en vou liggies met ’n metaallepel in.
4. Klits die eierwitte tot stywe punte vorm en vou dit ook versigtig by die beslag in.
5. Giet in die voorbereide pan, maak liggies bo-op gelyk en bak 10 minute tot gaar. (Toets deur liggies met jou vinger op die koek te druk. As dit terugspring, is dit gaar.) Moenie dit te lank bak nie, anders gaan dit beslis kraak as jy dit probeer oprol.
6. Sif ’n bietjie kakao en versiersuiker op ’n skoon, klam vadoek en keer die warm koek daarop uit. Trek die bakpapier af, sny die kante netjies en rol die koek in die vadoek op. Laat só afkoel.
7. Skep die karamel in ’n mikrogolf-bestande bakkie en mikrogolf so 20 sekondes tot dit meer smeerbaar is. Rol die koek oop, smeer die karamel daaroor (moenie tot reg teenaan die kante gaan nie) en rol dan weer op. Drup die gesmelte sjokolade bo-oor as versiering en laat dit weer hard word voordat jy die rolkoek in skywe sny en voorsit.