Thursday 16 November 2017

Chiffon sjokolade koek vir Kersfees



Chiffon sjokolade koek vir Kersfees
Bestanddele:
1 ¼ koppie meel
¾ koppie strooisuiker
¼ koppie kakao
¾ koppie kookwater
3 teelepels bakpoeier
4 eiers, geskei
¼ koppie vars olie
knippie sout
1 teelepel vanilla
½ teelepel gemengde speserye

Metode:
Voorverhit die oond tot 180 grade Celsius. Smeer twee oondpanne of muffinpannetjies.
Maak die kakao en kookwater aan. Laat afkoel. Klop die eierwitte styf.
Sif meel, suiker, bakpoeier en sout saam.
Klits eiergeel, vanilla en olie saam. Roer speserye in. Maak ‘n gaatjie in die middel van die meelmengsel en gooi eiermengsel in. Roer die afgekoelde kakao-mengsel by. Vou die styfgeklopte eierwitte by.
Gooi uit in twee ronde koekpanne, of individuele muffinpannetjies. Bak tussen 15 (vir muffins) en 25 minute teen 180 grade Celsius.

Versiering:
Die versiering is vir die kersseisoen die spreekwoordelike kersie op die koek. Laat jou kreatiwiteit en avontuurgees jou lei.
Klop ‘n bakkie room styf met ‘n eetlepel strooisuiker en ‘n kwart teelepel vanillageursel
Sit tussen die twee lae en bo-op die koek of klein koekies.
Versier met rooi en groen kersies, of gedreineerde bessies en sjokolade skaafsels (krummel ‘n ‘Flake’ of rasper ‘n blok sjokolade). Sprinkel fyn gekapte okkerneute of gekleurde klapper op soos verkies.
As jy wil, kan jy gewone sjokolade versiersuiker gebruik. Hou ‘n bietjie wit versiersuiker eenkant, voor jy die kakao byvoeg. Maak dit effe slapper aan as normaalweg. Smeer bruin versiersuiker tussen die twee lae en bo-op. Trek sirkels met wit versiersuiker. Neem ‘n toetspen en trek liggies strepe in die vier kwarte van die middel van die koek na buite, sodat die wit en bruin vermeng. Trek tussen-in weer vier strepe na binne.
Elke muffin kan op sy eie versier word, met die naam van jou gaste daarby en ‘n groen kersversiering. Pak elkeen s’n by sy bord, of bou ‘n stapel op ‘n mooi koekstaander.
Die koek kan by tee of as nagereg bedien word.