Thursday 20 July 2017

SKAAPTJOP EN AARTAPPELKERRIE



SKAAPTJOP EN AARTAPPELKERRIE

 Maak genoeg sodat daar oorbly vir die volgende dag, want dan is dit eers lekker.

■ 6-8 groot stoweskaaptjops
■ Sout en vars gemaalde swartpeper
■ Olie, vir braai
■ 6 middelslagaartappels, geskil en in kwarte gesny

Kerriesous
■ 2 groot uie, grof gekap
■ 4 knoffelhuisies, grof gekap
■ 5 ml komyn
■ 5 ml koljander
■ 5 ml masala
■ 10 ml matige kerriepoeier
■ 3 ml vinkelsaad
■ 5 kardemompeule
■ 5 ml sout
■ 200 ml sjerrie
■ 310 ml water
■ 1 blik (410 g) tamatiepuree of gekapte tamaties
■ 60 ml perskeblatjang

Voorverhit die oond tot 180°C. Geur die tjops met sout en peper. Verhit ’n bietjie olie in ’n pan en braai die tjops daarin bruin. Skep uit in ’n oondbak. Pak die aartappels tussen die tjops.

Gebruik dieselfde pan waarin die tjops gebraai is (voeg nog ’n bietjie olie by indien nodig) en braai die uie stadig daarin tot sag. Voeg die knoffel by en braai vir ’n paar sekondes. Voeg die speserye en sout by en braai tot geurig. Voeg die sjerrie by en laat vinnig opkook.

Skraap die boom van die pan om al die stukkies wat vassit, los te kry. Voeg die water, tamatiepuree (of gekapte tamaties) en perskeblatjang by en verhit weer tot kookpunt. Prut vir ongeveer 10 minute. Proe die sous en geur vir oulaas na smaak.

Skep die sous oor die tjops en aartappels in die oondbak en bedek goed met foelie. Bak vir 1½-2 uur tot die tjops en aartappels baie sag is. Sit warm voor op gestoomde wit rys. Lewer 8 porsies.