Thursday 20 July 2017

Pitabroodjies met gebraaide groente



Pitabroodjies met gebraaide groente

Vir 8 broodjies
750 ml (3 k) koekmeelblom
2 ml (¼ t) sout
20 ml (4 t) suiker
5 g (½ sakkie) kitsgis (8 ml)
175 g-houer ongegeurde jogurt
15 ml (1 e) kookolie
200 ml (¾ k) louwarm water

Vulsel 
30 ml (2 e) kookolie
2 vellose hoenderfilette, in repe gesny (omtrent 280 g)
1 middelslag- wit of rooi ui, in skywe gesny
5 ml (1 t) gekapte vars gemmerwortel
1 knoffelhuisie, geskil en gekneus
125 g kersietamaties
100 g vars aspersies, in stukke gesny
30 ml (2 e) gekapte vars gemengde kruie of 10 ml (2 t) droë kruie
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Metode 
Broodjies
Sif die koekmeel en sout saam. Voeg suiker en kitsgis by.
Voeg die jogurt, olie en water by en meng liggies in die droë bestanddele in. Keer uit op ’n oppervlak, liggies besprinkel met meel. Knie vir 5 tot 10 minute totdat die deeg glad en elasties is.
Plaas in ’n liggies gesmeerde bak. Bedek en laat rys in ’n warm plek vir omtrent 20 minute of tot dubbel in grootte.
Keer die deeg weer uit op ’n oppervlak, liggies besprinkel met meel en knie af.
Verdeel die deeg in 8 stukke. Knie elke stuk liggies en vorm in ’n bal.
Druk dan met die palm van hand platter tot rondes 18 cm in deursnee. (Gebruik ’n koekroller om dit plat te maak).
Plaas op gesmeerde bakplate en laat genoeg spasie tussenin vir broodjies om te rys.
Laat in ’n warm plek vir 10 tot 15 minutes of tot effens gerys.
Bak vir omtrent 8 minute in ’n voorverhitte oond teen 200 °C of totdat die brood gerys het en liggies bruin begin word. Sny ’n opening aan een kant van brood vir vulsel.

Vulsel
Verhit die olie in ’n swaarboompan. Voeg die hoenderrepe by en braai tot goudbruin.
Voeg die ui, gemmer, knoffel, tamaties en aspersiestukke by en soteer vir omtrent 2 minute. Voeg kruie en geurmiddels by. Verwyder van hitte, vul broodjies en sit dadelik voor.