Thursday 20 July 2017

Pere en koekbrood vir ontbyt



Errieda du Toit se Pere en koekbrood vir ontbyt:

Rooster die brood vir ektra tekstuur. Elke element kan die vorige dag gemaak word.

Pere in koffiesous...
1 ½ k (330 g) strooisuiker
100 ml sterk espresso of 60 ml kitskoffie-korrels aangemaak met 10 ml kookwater
4 kardemompeule, gekneus
2,5 ml sout
1 liter water
6 ferm pere met stingels aan (nie te ryp nie)
6 dik snye piesangbrood, gerooster

Plaas die suiker, koffie, kardemom, sout en water in ’n kastrol en verhit oor matige hitte tot dit net saggies begin kook. Skil die pere af, verwyder die klokhuis versigtig en BEHOU die stingel. Sny die pere in die lengte net tot by die nek. Prut 15 – 20 minute of tot vurksag in die koffiesous.

Lig die pere versigtig uit die kookvloeistof met ’n gaatjieslepel en hou eenkant om te dreineer. Gooi die kookstroop deur ’n siffie en gooi terug in die kastrol. Laat die vloeistof 10 – 15 minute afkook tot die stroop verdik. Laat afkoel.

Koffie-roomkaas
230 g ongegeurde (plain) laevet-roomkaas van Parmalat*, kamertemperatuur
30 ml van die pere se koffiestroop
Opsioneel: die roomkaas kan ook met heuning na smaak versoet word.
Klop die koffiestroop by die roomkaas in tot goed gemeng.

Piesangbrood (maak dit verkieslik die vorige dag)
100 g sagte botter
175g strooisuiker
2 groot eiers
2 – 3 ryp piesangs (fyngemaak)
225 g bruismeel
5 ml bakpoeier
30 ml melk

1. Verhit die oond tot 180°C. Smeer ’n broodpannetjie, voer met bakpapier en spuit weer.

2. Meet al die bestanddele direk in die mengbak af en klits 2 minute tot goed gemeng.

3. Skep in die voorbereide pan, maak die bokant van die beslag gelyk en bak 1 uur tot goed uitgerys, gaar en goudbruin.

4. Die beslag sal ’n kraak bo-op maak, wat deel van die karakter van piesangbrood is.

5. Laat 5 minute in die pan afkoel, lig uit en plaas op afkoelrak.

Voorsit: Sny piesangbrood in dik snye en rooster. Laat ‘n minuut of wat afkoel, plaas op koekbordjie en smeer ’n dik laag koffie-roomkaas op. Rangskik die peer in waaiervorm op die brood en giet koffiestroop oor. Sit voor met ’n koekvurkie.