Friday 9 June 2017

Nasi goreng



Tuis - Nasi goreng

Rys en eiers is twee stapelbestanddele wat jy altyd in die spens moet hê.

Genoeg vir: 4...
Bereidingstyd: 25 minute
Gaarmaaktyd: 20 minute

• 2 ekstragroot eiers
• 30 ml olyfolie
• 2 hoenderborsies
• 200 g steurgarnale, doppe verwyder
• 3 koppies gaar basmatirys, afgekoel
• 1 bossie sprietuie, gekap
• 1 klein komkommer
• 15 ml sojasous of na smaak
SPESERYPASTA
• 30 ml olie
• 4 knoffelhuisies
• 1 duim vars gemmer
• ½ klein ui, gekap
• 30 ml onversoete grondboontjiebotter
• 1–3 rooi brandrissies, ontpit (of nie)
• 5 ml tamatiepasta
• 5 ml garnaalpasta
• 15 ml ketjap manis (soet sojasous)

1. Maak die speserypasta Verwerk al die pastabestanddele saam tot fyn.

2. Klits die eiers, geur en maak drie dun eierpannekoekies. Rol die pannekoekies dun op en sny dit in repies. Hou eenkant.

3. Verhit 15 ml olie en braai die hoenderborsies tot goudbruin en gaar. Vlok die vleis. Giet die res van die olie in die pan en braai die steurgarnale tot pienk. Skep die speserypasta by en braai dit vir ’n minuut of twee. Roer die rys by en verhit tot deurwarm; voeg die hoender, pannekoekrepies, sprietuie, komkommer en sojasous by. Sit dit voor op ’n warm bord met ’n ekstra sprinkel sprietuie, sojasous en suurlemoensap na smaak.