Friday 9 June 2017

Mieliemeel-ontbytkoek



Mieliemeel-ontbytkoek
Mieliepap
■ 1 liter volroommelk
■ 125 ml suiker
■ Halwe vanieljepeul, uitgeskraap...
■ 250 ml mieliemeel
■ Knippie sout
■ 250 ml sultanas
■ 3 eiers, geklits

Karamel
■ 125 ml suiker

Voorverhit die oond tot 180˚C en spuit ’n diep koekpan van 20 cm x 20 cm liggies met kleefwerende kossproei. Hou eenkant. Verhit die melk, suiker en vanieljepeul (en saadjies) stadig tot net onder kookpunt.

Skep die vanieljepeul uit en voeg die mieliemeel en sout by. Klits met ’n draadklopper terwyl die mengsel begin kook. Draai die hitte laer en prut die pap vir 7-10 minute tot verdik en gaar. Voeg die sultanas by en roer deur. Laat staan die pap vir 5 minute en klits dan die eiers by.

Laat staan eenkant terwyl jy die karamel maak. Smelt die suiker stadig in ’n swaarboompan, sonder om met ’n lepel daaraan te raak. Draai en kantel die pan sodat die suiker egalig smelt. Moet dit nie laat kook voor al die suiker nie opgelos is nie. Laat prut die suiker tot dit ’n goue karamelkleur kry – moet dit nie te donker laat raak nie, aangesien dit nog verder gaan karameliseer in die oond.

Giet die kokende karamel versigtig in die voorbereide koekpan. Gebruik oondhandskoene om die koekpan op te tel en kantel dit versigtig sodat die boom en kante met ’n karamellagie bedek is. Laat vir ’n paar minute afkoel.

Skep die mieliepapmengsel in die koekpan en smeer gelyk bo-op. Bak vir 40-45 minute tot die pap goudbruin en ferm is en die karamel donkergoudbruin borrels teen die kante van die koekpan vorm. Haal uit die oond en laat vir sowat 15 minute afkoel. Maak die kante met ’n skerp mes los en keer die koek op ’n opdienbord om. Sit louwarm voor met goeie koffie. Lewer 8 porsies.