Friday 9 June 2017

Karamel-springmielie bolle




Karamel-springmielie bolle

Al wat jy nodig het is…

1 koppie ongekookte springmielies...
2E kookolie
sout (Maldon is perfek hiervoor)
2 koppies donker bruinsuiker
1 koppie witsuiker

¾ koppie goue stroop
1t vanielje-essens
1t asyn
½ koppie water
2E gesmelte botter

Toebehore: kwas, outydse tipe ronde roomyslepel

Verhit die olie in ’n groot dikbodempot, voeg die springmielies by, sit die deksel op en laat hulle ‘pop’. Skud die pot ’n paar keer gedurende die kokery om te verhoed dat die mielies brand. Verwyder, strooi sout oor en hou springmielies warm in ’n groot bak in jou lou oond (daar’s ’n rede hiervoor).

Maak die karamel deur die res van die bestanddele (behalwe die botter) oor medium hitte te kook tot die stroop begin verdik en ‘hard crack’ stadium bereik. Dit beteken as jy daarvan in ’n bakkie yswater drup set dit dadelik kliphard en bros (in plaas van toffierig). Kook dit vir vyf minute en begin dan toets. Sodra die karamel reg is, gooi die lot oor die springmielies en roer dadelik goed sodat al die springmielies bedek is. (As jou bak koud is, loop set die karamel so te sê dadelik op die bodem van die bak. Met die dat die mielies en die bak warm is, het jy meer tyd om die mengery gedoen te kry en jou bolle gevorm te kry.)

Om bolle te vorm, verf jou roomyslepel met gesmelte botter en gebruik dit om die springmielies te skep. Die ronde onderkant van die lepel vorm ’n perfekte bol. Druk die bokant effe rond met die holte van jou hand en siedaar. Laat die bolle heeltemal afkoel op waspapier en sit hulle dan in ’n bottel of enige ander lugdigte houer. Jy kan hierdie tot ’n week voor die tyd maak.

WENK: Vir parmantige rissiebyt, strooi bietjie rissiepoeier oor die springmielies. Gerookte Spaanse paprika werk ook goed. En natuurlik kan jy gesoute grondbone rofweg kap en by die mielies voeg vir ’n ekstra spesiale bederf