Wednesday 21 June 2017

Blomkool-en-patatkerrie



Blomkool-en-patatkerrie
Bestanddele
1 middelslag ui, gehalveer en in dikkerige skywe gesny...
1 wortel, in dik skywe gesny
2 lepels olyf- of grondboonolie

1 rooi rissie (gebruik die bird-eye-soort as jy van jou kerrie lekker sterk hou) fyn gekerf
'n stuk gemmer (omtrent so groot soos twee keer jou linkerduim) gewas, maar nie geskil nie, fyn gekerf
5 knoffelhuisies, geskil (kan weggelaat word, maar probeer dan om salotte te gebruik, dit is geuriger) fyn gekerf
1 eetlepel kerriepoeier
1 teelepel borrie (turmeric)
1 teelepel uiesaad
1 middelslag patat (goed gewas, maar nie geskil nie) in blokkies van 2,5 cm gesny
4 opgehoopte eetlepels fyngemaalde amandels
'n groot handvol sultanas
½ kop blomkool, in klein boompies gesny
1 blikkie (400 ml) klappermelk
150 g (ongeveer 1 koppie) bevrore ertjies
sap van ½ suurlemoen
'n groot handvol gekapte koljander
sout
2 opgehoopte lepels klapper, vir opdiening

Metode
Verhit die olie in 'n groot pot, en roer die ui en wortel daarin.
Laat dit stadig sag stowe vir 15 tot 20 minute met die deksel op.
Geur met sout.
Roer die rissie, gemmer en knoffel by die uie en wortels.
Voeg al die speserye en uiesaad by.
Laat dit vir vyf minute stowe - die geure moet goed ontwikkel.
Geur weer met sout, en voeg die patatblokkies en gemaalde amandels by.
Meng goed.
Verhoog die hitte effens, en voeg 250 ml water en die sultanas by.
Laat dit vir 10 tot 15 minute prut sonder die deksel.
Voeg die blomkool en klappermelk by, en laat vir nog sowat 15 minute prut.
Maak seker dat die patat en blomkool gaar is.
Skakel die stoof af en roer die ertjies by.
Proe en balanseer die smaak met suurlemoen en sout.
Bedien met die varsgekapte koljander en gedroogde klapper.

Notas
Die diepte van smaak wanneer ʼn kerrie gekook word, word bepaal deur die knoffel, ui en gemmer, wat saam met die olie saggies gebraai word. Daarna kom die droë speserye by. Ek kerf die stingels van die koljanderblare ook fyn en sit dit saam met die ui by. Kerrie is dikwels smaakloos omdat daar nie sout bygevoeg is nie.