Wednesday 21 June 2017

Alles-in-een-frikkadelle



Alles-in-een-frikkadelle
Frikkadelle
1 dik sny brood, verwerk tot krummels
500 g beesmaalvleis...
500 g gemaalde varkvleis
1 ui, gerasper
10 ml fyn komyn
10 ml fyn koljander
5 ml sout

5 ml varsgemaalde swartpeper
15 ml gekapte vars pietersielie
Rys-en-tamatiesous
375 ml witrys
45 ml olyfolie
2 uie, gekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
30 ml tamatiepasta
2 blikke (410 g elk) gekapte tamaties
375 ml water
sout, varsgemaalde swartpeper en suiker na smaak
1 rolletjie (100 g) bokmelkkaas, in 12 wieletjies gesny
vars pietersielie, om af te rond

Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n oondbak goed met olyfolie. Meng al die bestanddele vir die frikkadelle, bedek en verkoel terwyl jy die res van die gereg voorberei. Skep die rys in die gesmeerde oondbak en versprei egalig.
Maak nou die tamatiesous: Verhit die olie in ’n swaarboompan en braai die uie en knoffel daarin in tot die uie sag is. Voeg die tamatiepasta by en braai vir ’n paar sekondes. Voeg die gekapte tamaties en water by. Verhit tot kookpunt en prut vir 10-12 minute. Geur met sout, peper en suiker na smaak. Skep die helfte van die tamatiesmoor oor die rys in die oondbak. Haal die frikkadelmengsel uit die yskas en vorm 12 ewe groot frikkadelle. Pak dit bo-op die rys-en-tamatiesmoor en skep die res van die tamatiesmoor bo-oor die frikkadelle. Bedek met tinfoelie en bak vir 40 minute. Haal die tinfoelie af en sit ’n stukkie bokmelkkaas bo-op elke frikkadel. Bak verder tot die kaas gesmelt, die sous dik en borrelend en die rys sag en gaar is. Strooi vars pietersielie oor en sit warm voor.
Lewer 6 groot porsies.