Wednesday 14 June 2017

AARTAPPELPLAATKOEKIES AVO EN SAGTE EIER



AARTAPPELPLAATKOEKIES AVO EN SAGTE EIER
Aartappelplaatkoekies
■ 1 groot ui, fyn gekap...
■ 30 ml botter
■ 500 ml fyngedrukte aartappel (gebruik 2-3 groot aartappels daarvoor, kook dit sag, dreineer en druk dit fyn sonder melk of botter)
■ 2 eiers, liggies geklits
■ 90 ml koekmeel

■ 60 ml fyn gerasperde parmesaankaas
■ Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
■ Olie, vir braai

■ 4 ryp avokado’s, geskil, ontpit en in repe gesny
■ 8 sagte eiers (gebraai of geposjeer)
■ Ongeveer 375 ml tuisgemaakte tamatiesmoor (Resep volg)

Braai die ui oor matige hitte in die botter tot sag en goudbruin. Voeg die ui by die fyngedrukte aartappel saam met die eiers, meel, parmesaankaas en sout en peper na smaak en klop goed. Laat staan die mengsel vir 10 minute.

Verhit ’n bietjie olie in ’n swaarboompan en skep opgehoopte eetlepels van die mengsel daarin. Smeer die beslag platter met die agterkant van die eetlepel sodat die plaatkoekies ongeveer 6 mm dik is. Braai tot goudbruin en bros aan die een kant, draai om en braai tot goudbruin en deurgaar. Dreineer op kombuispapier en sit dan die plaatkoekies op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is.

Dertig minute voor jy ontbyt wil bedien, voorverhit die oond tot 160°C en sit die bakplaat met plaatkoekies in die oond. Verhit tot warm en bros. Terwyl die plaatkoekies warm word, berei die avokado, eiers en tamatiesmoor voor. Sit ’n plaatkoekie op ’n bord, skep ’n lepel tamatiesmoor bo-op en pak ’n paar skywe avokado bo-op.

Rond af met ’n sagte eier en geur na smaak met sout en vars gemaalde swartpeper. Sit voor met bros spekvleis. Lewer 8 porsies.

Geurige tamatiesmoor

■ 500 g tamaties, geskil en gekap
■ 1 groot groen soetrissie, ontpit en in dun repies gesny
■ 500 g uie, grof gerasper
■ 500 g appels, geskil, ontkern en gerasper
■ 2 knoffelhuisies, gekap
■ 250 ml asyn
■ 375 ml sagte bruinsuiker
■ 15 ml elk sout en paprika
■ 10 ml aangemaakte mosterd
■ 5 ml elk rissiepoeier en worcestersous
■ 160 ml tamatiepasta

Sit die tamaties, soetrissie, uie, appels en knoffel in ’n kastrol saam met die helfte van die asyn. Verhit tot kookpunt en prut tot die uie sag is.

Voeg die res van die bestanddele by en verhit tot die suiker opgelos is. Kook, sonder ’n deksel, tot die smoor dik en geurig is. Bottel warm en verseël dadelik. Lewer 2 kg smoor.