Thursday 11 May 2017

Raak só ontslae van ’n rook-reuk in jou huurhuis



Raak só ontslae van ’n rook-reuk in jou huurhuis (Tuis)

Moontlike oplossings

• Asyn bied ’n goedkoop uitweg om van slegte reuke ontslae te raak. Plaas ’n bakkie asyn in die vertrek; die suur sal van alle teer en ander rookreste ontslae raak, en die reuk van asyn verdwyn baie gouer as dié van rook....

• Om die rookreuk uit jou meubels of matte te kry, kan jy koeksoda ruimskoots daaroor strooi en oornag los. Stofsuig dit in die oggend en herhaal ná ’n paar dae indien nodig.

• Maak van die reukabsorberende eienskappe van gemaalde koffie gebruik om van sigaretreuke ontslae te raak. Gooi eenvoudig gemaalde koffie in ’n paar koffiefilters, bind dit toe en plaas dit oral waar die sigaretreuk vasgevang is.

• Houtskool is ook verbasend doeltreffend én bekostigbaar. Plaas ’n paar bakkies houtskool in ’n vertrek en jy sal ná ’n week agterkom dat dit die sigaretreuk geabsorbeer het.

• Moenie linoleumvloere, glas- en houtoppervlakke afskeep nie. Gebruik glasreinigers, verdunde ammoniak (soos in Handy Andy) en houtskoonmaakoplossings om die stank af te skrop wat aan allerlei oppervlakke kleef.

• Party mense sweer by sitrusskil om van slegte reuke ontslae te raak. Laat sitrusskille in jou huis rondlê tot die skil heeltemal uitgedroog het. As jy dit weggooi, gooi jy ook die aaklige reuk – altans die meeste daarvan – weg.

• Brand vanieljegeurkerse, plaas sakkies wasgoedversagter in jou huis rond en gebruik parfuumverspreiders (wat spesiaal vir huisareas ontwerp is) in die vernaamste leefareas. Die heerlike geure sal kort voor lank die rookreuk vervang.