Wednesday 18 January 2017

Lensie-Frikkadelle




Lensie-Frikkadelle

125 ml (½ k) rou bruin lensies
1 x 410 g blik botterbone, gedreineer
1 ui, gerasper…...
1 wortel of appel, gerasper
2 eiers
30 ml (2 e) gekapte vars pietersielie
10 ml (2 t) gemengde gedroogde kruie of gedroogde tiemie
75 ml (5 e) volkoring- of koekmeel
15 ml (1 e) tamatiesous
15 ml (1 e) suurlemoensap
2,5 ml (½ t) bakpoeier
2,5 ml (½ t) sout en peper na smaak
7,5 ml (½ e) gemaalde koljander
15-30 ml (1-2 e) olyf- of avokado-olie om in te braai

1. Plaas lensies met 500 ml water in ’n kastrol (20 cm AMC Low) en bring tot kookpunt. Moenie sout byvoeg nie, dit kan verhoed dat die lensies sag word. Verlaag die hitte en prut met ’n deksel vir 30-40 minute of tot sag. Dreineer deeglik en laat afkoel.
2. Druk lensies en botterbone met ’n vurk of aartappeldrukker redelik fyn en meng met die res van die bestanddele, behalwe die olie.
3. Verhit ’n dun lagie olie oor matige hitte in ’n braaipan (AMC 28 cm Chef’s Pan). Vorm die mengsel in 8-10 frikkadelle en druk dan effens platter met jou palm. Dit hoef nie perfek gevormde frikkadelle of koekies te wees nie.
4. Panbraai aan die een kant tot gestol bo-op. Keer om en braai aan die ander kant tot goudbruin en gaar. Herhaal met orige mengsel.
5. Sit voor as hamburgers in volgraanrolletjies met slaai of in pitas vir ’n somers-ete. Dis selfs heerlik met groente en slaai.

Wenke:
1. Vorm mengsel in balletjies en pak in ’n oondbak. Skep 1-2 blikkies gekapte tamaties oor en bak teen 180 °C vir 30 minute of tot gaar.
2. Gebruik ’n blik lensies, as jy nie tyd het om dit eers te kook nie. Maak seker dat jy dit deeglik dreineer en afspoel voor dit fyngedruk word.
3. Kook ’n dubbele hoeveelheid lensies en vries vir ’n volgende ete.