Monday 16 January 2017

Kerriehoenderslaai



Kerriehoenderslaai
Genoeg vir 4 porsies
Bereidingstyd: 30 minute
Gaarmaaktyd: 20 minute
...
• 4 hoenderborsfilette, in repe gesny (of gebruik oorskiet hoender)
• 2 blikke lensies, afgespoel en gedreineer
• 3 middelslag-wortels, in dun repies gesny
• 4 selderystele, in dun skyfies gesny
• 4–6 radyse, gewas en dungesny
• 125 ml Italiaanse pietersielie, gekap
• 60 ml vars koljanderblare, gekap
• 15 ml olyfolie
• vars slaaiblare vir voorsit (’n paar kappertjies sal ook mooi lyk)
• 4 saggekookte eiers, afgedop en gehalveer
SLAAISOUS
• 15 ml olie
• 1 ui, gekap
• 20 ml matige kerriepoeier
• 10 ml tamatiepasta
• 30 ml vars suurlemoensap
• 10 ml appelkooskonfyt
• 45 ml blatjang
• 125 ml mayonnaise
• 125 ml ongegeurde jogurt
1. Berei die slaaisous Soteer die ui in verhitte olie tot sag en glansend. Voeg die kerriepoeier, tamatiepasta, suurlemoensap en appelkooskonfyt by en roer tot die konfyt gesmelt is. Roer die blatjang by en verwyder van die hitte. Skep ’n derde van die blatjangmengsel uit en laat die res heeltemal afkoel. Roer die mayonnaise en jogurt by en geur na smaak met sout en peper.
2. Meng die behoue uieblatjang-mengsel deur die hoenderrepe. Verhit ’n braaipan tot warm en braai die hoender tot goudbruin en gaar. Geur met sout en peper.
3. Sit voor Meng die lensies, wortels, seldery, radyse, pietersielie en koljander saam en klam aan met olyfolie. Skep dit op die slaaiblare. Meng die slaaisous deur die gaar hoender en skep bo-op. Rangskik kappertjies en eiers bo-op en sit dadelik voor.
(Tuis)