Monday 16 January 2017

3 liplekker slaaisouse




3 liplekker slaaisouse
Soms is ’n lekker slaaisous al wat ’n klompie vars slaaiblare nodig het.


Lemmetjie-en-koljanderslaaisous...
Maak sowat 400 ml

• 1 rooi ui, fyngekap
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• hand vol elk koljander en Italiaanse pietersielie
• 10 ml mosterdpoeier
• 15 ml korrelmosterd
• 15 ml witwynasyn
• sap en skil van 3 lemmetjies
• sout en peper na smaak
• 250 ml olyfolie
Plaas al die bestanddele behalwe die olie in ’n voedselverwerker en kap dit fyn. Voeg die olie in ’n dun straaltjie by terwyl die voedselverwerker aan is. As die sous te dik is, kan jy ekstra olie byvoeg. Die sous hou tot ’n week in die yskas.


Balsemiek-en-basilie-vinaigrette
Maak sowat 400 ml
• 1 klein rooi ui, fyngekap
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 80 ml balsemiekasyn
• 250 ml olyfolie
• groot hand vol basilieblare
Klits die ui, knoffel, sout en peper en asyn saam. Voeg die olie in ’n dun straaltjie by terwyl jy aanhoudend klits. Skeur of kap die basilie fyn en roer dit ook in. Gebruik dié sous liefs dadelik.


Tuisgemaakte aïoli
Aïoli is eintlik die Franse naam vir knoffelmayonnaise. Gebruik dit as slaaisous of as doopsous vir groentestokkies of slaptjips.
Maak sowat 600 ml
• 4 knoffelhuisies, geskil en goed fyngekap
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 3 eiergele
• 5 ml Dijon-mosterd
• 15 ml rooiwynasyn
• sowat 400 ml sonneblomolie
• 50 ml gekapte grasuie
1. Meng al die bestanddele behalwe die grasuie en olie in ’n mengbak. Klits vir 1 minuut met ’n elektriese klitser. Begin nou die olie druppel vir druppel byvoeg terwyl jy aanhoudend klits. Moenie die olie te vinnig byvoeg nie, want dit sal skif! Hou aan om die olie stadig by te klits tot die helfte ingemeng is. Nou kan jy die res van die olie in ’n dun straaltjie byvoeg.
2. Roer die grasuie by en proe vir sout en peper. Die aïoli hou vir tot ’n week in die yskas en kan met ’n bietjie warm water of room verdun word as dit te dik is.
(Tuis)