Wednesday 23 November 2016

Mynhardt se Kersfees Koekstruif




Mynhardt se Kersfees Koekstruif

Bestanddele

Tuisgemaakte Roosgegeurde Vla...
1 koppie volroom melk
1 koppie room
1 vanilla peul se sade of vanilla poeier of 1 teelepel gewone vanilla ekstrak
2 eetlepels roosstroop
6 eiergele
4 eetlepels suiker

Vir die res van ons Kersfees Koekstruif
1 rooi fluweelkoek of rooi fluweel swiss roll
2 koppies room styf geklits
2 pakkies rooi granaat jelliepoeier aangemaak en gestol
250 g vars aarbeie
250 g vars rooi kersies
250 g okkerneute
tuisgemaakte roosgegeurde vla
vars rooi of pienk roosblare
KWV 5 jaar oue brandewyn, KWV Cape Tawny of rooi bessie- of granaatsap


Metode

Tuisgemaakte Roosgegeurde Vla:
Plaas die room en melk in ’n souspot saam met die vanilla op medium hitte en verhit tot net voor kookpunt.
Klits die eiers, roosstroop en suiker saam.
Voeg die warm room- en melkmengsel by die eiers terwyl jy dit vinnig klits.
Gooi terug in die potjie en verhit totdat die vla verdik vir min of meer vyf minute, wees versigtig om dit nie te warm te maak nie.
Die vla moet ‘n strepie kan los agter op jou lepel as jy jou vinger daardeur trek.
Laat afkoel en sit dan in die yskas.

Vir die res van ons Kersfees Koekstruif:
Gebruik jou gunsteling glasbak of medium grootte Consol glas bottels om die koekstruif aanmekaar te sit.
Bedruip die rooi fluweelkoek met of brandewyn, Cape Tawny of die bessiesap.
Pak die bestandele in lae in jou bak of bottels en garneer met die vars roosblare bo-op.