Tuesday 1 November 2016

Gevulde botterskorsie




Gevulde botterskorsie
Genoeg vir: 4 porsies
Bereidingstyd: 30 minute
Oondtemperatuur: 200 °C
Baktyd: sowat 1 uur altesaam
...
• 2 middelslag-botterskorsies
• olyfolie
• sout en varsgemaalde swartpeper
• komyn
• 250 g klaar bereide maalvleis-bolognaise (gebruik jou gunstelingresep)
• 125 ml crème fraîche of suurroom
• 4-6 songedroogde tamaties in vinaigrette, gekap
• varsgerasperde parmesaankaas
• vars origanum
1. Voorverhit die oond tot 200 °C. Sny die botterskorsies in die lengte in die helfte deur. Drup olyfolie oor en geur met sout, swartpeper en komyn. Bedek die botterskorsies met foelie en plaas hulle met die gesnyde kante na bo op ’n bakplaat. Bak vir sowat 45 minute of tot sag. Prik die botterskorsies met ’n vurk om seker te maak hulle is gaar.
2. Haal die botterskorsie uit die oond en skep die pitte en drade uit. Skep nou die gaar pampoen ook uit die skille, maar behou ’n rand van sowat 1 cm dik. Skep die botterskorsievleis in ’n mengbak en meng dit met die crème fraîche, bolognaise en songedroogde tamaties. Proe en geur met sout en swartpeper. Skep nou die gegeurde botterskorsie terug in die skille en sprinkel parmesaankaas en ’n bietjie vars origanum bo-oor.
3. Plaas die botterskorsiehalwes weer op die bakplaat en bak dit nog sowat 10-15 minute of totdat dit goudbruin is bo-op.