Tuesday 1 November 2016

Pampoenbrood




Pampoenbrood
Genoeg vir: 2 brode
Bereidingstyd: 45 minute, rystyd uitgesluit
Oondtemperatuur: 200 °C en dan 180 °C
Baktyd: 50-60 minute
...
• 840 g (7 x 250 ml) koekmeel
• 2 x 10 g-pakkies kitsgis
• 10-15 ml sout
• 5 ml borrie
• 375 ml pampoenmoes
• sowat 1 liter louwarm water
• botter
• olie

1. Meng die koekmeel, kitsgis, sout en borrie in ’n groot mengbak of deegskottel.
2. Meng die pampoenmoes met 500 ml van die water en giet dit by die meelmengsel. Meng die pampoenmoes en die meel; voeg nog water by, indien nodig. Die mengsel moet sag wees, maar nie pap nie. Keer die deeg uit op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is.
3. Smeer jou hande met botter en knie die deeg vir sowat 5 minute. Smeer jou hande weer met botter en knie dan nog 5-10 minute tot die deeg elasties is. Op ’n droë, warm dag sal jy agterkom die deeg droog vinnig uit gedurende die knieproses en dan moet jy jou hande af en toe in lou water druk voor jy verder knie.
4. Vorm ’n netjiese deegbol sodra die deeg elasties is. Smeer ’n mengbak met olie en plaas die deegbol daarin. Rol die bol in die bak rond sodat die deeg oraloor met olie bedek word. Dit keer uitdroging gedurende die rysproses.
5. Bedek die mengbak met ’n klam, skoon doek en laat staan dit 15 minute op ’n warm plek om te rys. (Die deeg sal nie noodwendig in volume verdubbel nie.)
6. Knie die deeg af, verdeel in twee en vorm dit in brode. Plaas die brode in panne wat met botter gesmeer is, bedek en laat weer op ’n warm plek staan. Laat rys tot die deeg in volume verdubbel het.
7. Voorverhit die oond. Klits 1 eiergeel met ’n bietjie water en verf dit oor die brode. Bak vir 5 minute, verlaag die temperatuur na 180 °C en bak nog 40-45 minute tot die brode hol klink as jy daarop klop.