Thursday 13 October 2016

Janbraai se Ierse Burgers



Janbraai se Ierse Burgers
Jy benodig (vir 6 mense)
6 burgerfrikkadelle
1 blikkie donker moutbier
1 blok (240 g, in snye gesny) beleë cheddarkaas
1 pakkie (250 g) streepspek
6 hamburgerrolletjies
botter
1. Sit die burgerfrikkadelle in ’n marineerbak en giet die bier daaroor uit totdat elkeen behoorlik met die vloeistof bedek is. Sit ’n deksel op, bêre die bak in die yskas en laat marineer vir ’n paar uur of verkieslik oornag.
2. Braai die burgerfrikkadelle oor hoë hitte vir omtrent 8 minute tot gaar. Jy hoef die frikkadelle net een keer in die braaiproses om te draai. In die laaste 2 minute pak snye kaas op elke frikkadel sodat die vleis en die vuur se hitte die kaas kan smelt.
3. Terwyl jy met die frikkadelle besig is, braai ook die spek – jy kan dit nogal maklik op ’n normale rooster op die vuur doen.
4. Sny en smeer die rolletjies met botter en rooster aan die binnekant deur elkeen vir omtrent ’n minuut op die braairooster te sit. Hou dop dat hulle nie brand nie. Bou die burger: gesmeerde en geroosterde rolletjie, frikkadel met gesmelte kaas op, gebraaide spek.
Wenk: Dit is nie absoluut noodsaaklik om donker moutbier vir die resep te gebruik nie. Jy kan dit nogal goed regkry met pilsener, lager of ale. Die burger sal natuurlik ’n bietjie anders smaak, maar nie op ’n slegte manier nie