Thursday 13 October 2016

Gisbeskuit met kaneel en heuning




Gisbeskuit met kaneel en heuning
Resep lewer: 40 Beskuite
400 g koekmeel
150 g volkoringmeel
150 g sojameel
300 ml (55 g) spysverteringsemels (digestive bran)
10 ml sout
10 ml fyn kaneel
10 g-pakkie kitsgis
100 g sagte margarien
125 g suiwer heuning
380 g-blik onversoete ingedampte laevetmelk (bv. Ideal-melk)
100 ml water
10 ml suurlemoensap
1.Verhit oond tot 40 °C.
2.Meng koekmeel, volkoringmeel, sojameel, semels, sout, kaneel en kitsgis.
3.Verhit margarien, heuning, ingedampte melk en water tot margarien gesmelt is. Laat melkmengsel afkoel tot louwarm. Voeg melkmengsel en suurlemoensap by droë bestanddele en knie vir 8 tot 10 minute tot ’n sagte, elastiese deeg.
4.Bedek die deeg met ’n plastieksakkie en vadoek. Plaas op ’n vadoek in oond en laat vir 1 tot 1½ uur rys tot dubbel in volume. Knie deeg af, rol 40 deegporsies in langwerpige vingers en pak lossies teen mekaar in 1 groot of 2 middelslag- gesmeerde broodpanne. Bedek pan(ne) soos voorheen en laat rys weer tot dubbel in volume. Haal broodpanne uit oond, maar hou bedek terwyl oond verhit word.
5.Verhit oond tot 180 °C.
6.Bak vir 40 – 45 minute tot beskuit gaar is en hol klink as jy daarop klop.
7.Keer beskuit op draadrakkie uit en laat afkoel. Breek in stukke en droog vir 8 uur by 80 °C of in louoond.
WENKE
Die kaneel gee ’n besondere geur aan die beskuit, maar kan na smaak met anys vervang word.
Die beskuit bevat min vet en week lekker gou sag in warm koffie.
Die GI van die beskuit kan van GI = 62 verlaag word na GI = 56 wanneer 60 ml melk by die tee of koffie gevoeg word. Saam met ’n klein vrugteporsie kan dit werk vir ’n haastige ontbyt.