Monday 26 September 2016

Pasta met frikkadelletjies en broccoli




Pasta met frikkadelletjies en broccoli
Genoeg vir: 6
Bereidingstyd: 1 uur
Oondtemperatuur: 180 °C
Baktyd: 30 minute...
TAMATIEROOMSOUS
• 30 ml olyfolie
• 1 ui, fyngekap
• 60 ml rooiwyn

• 2 blikke (410 g elk) gekapte tamaties
• 30 ml tamatiepasta
• 250 ml room
• sout en swartpeper na smaak
• knippie bruinsuiker
• 4 takkies vars origanum
• 4 takkies vars tiemie
FRIKKADELLETJIES
• 500 g maalvleis
• 1 klein ui, fyngekap
• 1 dik sny witbrood
• 60 ml melk
• 2 eiers, geklits
• 5 ml gerasperde suurlemoenskil
• sout en swartpeper
• 500 g rigatoni-pasta
• 300 g broccoli, in blommetjies gebrek
• 250 ml beleë cheddar, gerasper
1. Berei die sous Verhit die olyfolie in ’n kastrol en soteer die ui tot sag. Voeg die rooiwyn by en laat dit kook. Verlaag die hitte en prut totdat die wyn weggekook is. Voeg die tamaties en hul vloeistof, tamatiepasta, room, sout en swartpeper, bruinsuiker en kruie by en bring tot kookpunt. Verlaag die hitte en prut totdat die sous voldoende ingedamp is: dit moet soos dik room lyk.
2. Maak die frikkadelletjies Meng die maalvleis en ui. Week die brood in die melk druk dit droog. Meng dit by die vleis in met ’n vurk. Voeg die eiers, suurlemoenskil en geurmiddels by en meng. Vorm klein frikkadelletjies. Verhit ’n bietjie olie in ’n braaipan en braai dit oor matige hitte tot goudbruin. Dreineer en voeg dit by die tamatiesous.
3. Voorverhit die oond. Kook die pasta tot amper gaar, sowat 5 minute korter as die tyd op die verpakking. Dreineer en roer die tamatiesous en frikkadelle by die pasta.
4. Blansjeer die broccoliblommetjies en roer dit ook by die pasta. Skep dit in ’n gesmeerde oondbak en sprinkel die kaas oor. Bak tot borrelrig en goudbruin, sowat 30 minute.