Thursday 29 September 2016

MELKTERT SOOS OUMA HOM GEMAAK HET




MELKTERT SOOS OUMA HOM GEMAAK HET
Genoeg vir 6 of meer mense
Bereiding: 15 minute
Gaarmaaktyd: 1 uur 20 minute
BESTANDELE:...
400 g broskorsdeeg
1 L (4 k) melk
375 ml (1½ k) strooisuiker
5 ml (1 t) vanielje-ekstrak
2 kaneelstokke
60 ml (¼ k) meel
60 ml (¼ k) mielieblom
5 ml (1 t) bakpoeier
3 eiers, geskei
10 g botter
METODE:
Voorverhit die oond tot 200 °C. Smeer ’n 20 cm-losboomkoekpan.
Rol die deeg liggies uit en voer die koekpan daarmee uit. Prik liggies met ’n vurk, bedek met bakpapier en vul met rys of droë bone. Bak 10 minute. Verwyder die bakpapier en bone van die deegdop en bak nog 10 minute.
Verlaag die oondtemperatuur tot 160 °C.
Verhit die melk saam met die helfte van die suiker, die vanielje en die kaneelstokke in ’n kastrol tot warm, maar nie tot kookpunt nie.
Sif die droë bestanddele in ’n bak saam.
Klits die eiergele en res van die suiker saam in ’n aparte bak tot bleek.
Voeg die droë bestanddele by die eiergeelmengsel. Haal die kaneelstokke uit die melk en giet dan die warm melk in die eiermengsel terwyl jy af en toe klits tot glad.
Giet die mengsel in die kastrol en kook oor lae hitte terwyl jy roer tot dik. Roer die botter in en sit eenkant om af te koel.
Klits die eierwitte tot sagte pieke vorm. Vou dit by die sous in en giet dit in die gebakte deegdop.
Bak 50 minute of tot geset en goudkleurig bo-op.