Monday 18 July 2016

Gouestroopkluitjies



Gouestroopkluitjies

Te veel van ’n lekker ding…

Jy benodig (vir 4-6)...

• 2 koppies koue water
• 1 koppie sagte bruinsuiker
• ¹/³ koppie gouestroop
• 1 koppie (200 g) botter
• 1¾ koppie melk
• 4 koppies bruismeel
• 1 teelepel fyn gemmer
• 8 stukke ingemaakte gemmer in stroop, in die helfte gesny (opsioneel)

Só maak jy:

1. Meng die water, suiker, gouestroop en die helfte van die botter in ’n diep pan of swartpot, en verhit dit tot kookpunt. Draai die hitte dadelik laer sodat dit net-net prut.
2. Maak die melk louwarm. Meng die meel, fyn gemmer en die res van die botter baie goed met jou vingerpunte totdat die mengsel soos broodkrummels lyk. Voeg 2 eetlepels van die ingemaakte gemmer se stroop en die melk daarby en meng dit tot ’n stywe deeg.
3. Laat die gouestroopmengsel weer kook en skep deegbolle wat so groot soos ’n eetlepel is daarin. Draai dan die hitte laer en laat die kluitjies vir 10 minute kook – draai dit gereeld om. Moenie al die kluitjies gelyk in die stroop sit nie; hulle sal aan mekaar vaskleef. Skep die eerste klomp met ’n gaatjieslepel uit wanneer hulle gaar is, en hou dit warm terwyl jy die res van die kluitjies kook.
4. Sit dit voor met vla. Vir die grootmense kan jy die gemmerstukke bysit.

Wenk:

Wat dié resep so lekker maak vir kamp (behalwe dat dit vinnig is), is dat jy amper al die bestanddele waarskynlik in jou kampspens sal hê.