Friday 8 July 2016

Donker sjokoladelaagkoek



Donker sjokoladelaagkoek
‘n Donker, klam koek wat soos egte sjokolade proe. As die versiersel te ryk of duur lyk, versier die koek met sjokolade-botterversiersel of gekookte kondensmelk en sit dan sjokoladekrulle of gerasperde sjokolade bo-op om dit af te rond.
100 g donker sjokolade, gebreek
375 ml sterk, warm koffie...
750 ml ligte bruinsuiker
625 ml koekmeel
375 ml kakao
10 ml bakpoeier

5 ml koeksoda
5 ml sout
3 ekstra groot eiers
180 ml olie
375 ml volroom-karringmelk of Bulgaarse jogurt
10 ml vanieljegeursel
Versiersel
400 g donker sjokolade
250 ml dik room
60 ml sagte botter
30 ml goue- of esdoringstroop
Voorverhit die oond tot 150 °C en smeer twee koekpanne van 20 cm. Voer elke pan met bakpapier uit en smeer weer. Meng die sjokolade en warm koffie in ‘n bak en roer tot die sjokolade gesmelt en die mengsel glad is. Sit die suiker in ‘n bak en sif die droë bestanddele bo-oor. Roer deur en hou eenkant. Klits die eiers in ‘n ander mengbak tot goed gemeng en liggeel. Voeg die olie, karringmelk, vanielje en sjokolademengsel by die eiers en klits goed. Giet oor die droë bestanddele en meng goed. Verdeel tussen die twee panne en bak vir 1 – 1 1/4 uur tot gaar. Laat in die panne afkoel. Keer uit wanneer heeltemal koud en trek die bakpapier af. Maak die versiersel terwyl die koeke afkoel. Smelt die sjokolade en room saam oor lae hitte tot glad. Roer die botter en stroop by en laat afkoel tot dik genoeg om te smeer. Sny elke koeklaag in twee dunner lae (indien verkies) en versier die koek tussen die lae met die versiersel. Stapel lae opmekaar en versier bo-op met die orige versiersel. Hou in die yskas, maar sit voor teen kamertemperatuur.
Lewer 1 groot koek.
(Landbou)