Tuesday 28 June 2016

Rolkoek




Rolkoek

Maak: 1 rolkoek
Bereidingstyd:
30 minute
Baktyd:
10-15 minute
Oondtemperatuur:
190 °C



• 4 ekstra-groot eiers, geskei
• 130 g (150 ml) strooisuiker, plus ekstra vir oorsprinkel
• 5 ml vanieljegeursel
• 100 g (190 ml) koekmeel
• 5 ml bakpoeier
• aarbei- of appelkooskonfyt, verhit

1 Klits die eiergele en voeg die strooisuiker geleidelik by. Klits dit tot die mengsel dik en lig van kleur is en klits dan die vanieljegeursel en 45 ml water by.

2 Sif die meel en bakpoeier saam en gebruik ’n spatel of groot metaallepel om dit baie liggies by die eiermengsel in te vou.

3 Gebruik ’n silwerskoon, droë bak en skoon klitsers om die eierwitte te klits tot dit net-net styf is. Moenie dit te veel klits nie.

4 Vou omtrent ’n kwart van die eierwit met ’n metaallepel by die eiergeelmengsel in voordat jy die orige eierwitte ook invou.

5 Voer ’n rolkoekpan van 23 x 32 cm met bakpapier en smeer dit met botter. Gooi die beslag in die pan en bak dit vir 10-15 minute in die verhitte oond tot dit goudbruin is.

6 Sit ’n stuk bakpapier op ’n klam tee-doek en sprinkel strooisuiker oor.

7 Haal die koek uit die oond en keer dit dadelik uit op die papier met die strooisuiker. Trek die bakpapier aan die bokant af en sny die rande netjies met ’n skerp getande mes. Smeer die warm konfyt oor die koek, maar los ’n rand van 1 cm om die kante oop. Maak ’n klein insnyding omtrent 1 cm in van die kort rand naaste aan jou (moenie regdeur sny nie) – dit sal jou help om die koek op te rol. Begin dan die koek stadig oprol en gebruik die bakpapier om seker te maak jy rol dit styf op. Los die rolkoek met die soomkant na onder tot dit heeltemal afgekoel het. Sprinkel ekstra strooisuiker bo-oor en sny dit in skywe om dit voor te sit.

Hou dit dop
• Gebruik kamertemperatuur eiers om ’n goeie volume te verseker wanneer jy dit klits.
• Klits die eiergeel en suiker tot dit omtrent drie keer die oorspronklike volume is.
• Moenie die eierwitte te veel klits nie. As dit droog en bros raak, het jy dit te veel geklits en sal dit nie die volume behou nie. Wees versigtig as jy die meel invou – jy wil nie die lug verloor nie.
• Rol die koek op terwyl dit nog warm en buigbaar is.