Tuesday 14 June 2016

Poeier vir Colour Festival



Marlyn Ingram Ferreira
 
Verskeie mense het my gevra hoe mens die poeier maak vir n Colour Festival. Met julle toestemming, verduidelik ek gou hier.

Mens kan ook poeier waterverf gebruik maar dit gooi nie so mooi nie en dit droog die vel vreeslik uit, brand as dit in die oë kom en vlek klere maklik.

Die poeier wat ek met maizena maak is presies soos die wat deur die Color Run gebruik word en gooi met n pragtige "...rookwolk" en maak mooi fotos. Dis nie moeilik om te maak nie maar jy moet regtig genoeg tyd hê om dit te laat droog en daar is n paar prosesse. Jy kan dit ook aankoop by die vervaardigers wat dit vir Color Run maak maar dis BAIE DUUR! Soos in n paar honderd rand per kg.

Jy gebruik:
500g Maizena
2 botteltjies koekkleursel(van jou keuse)
Bietjie kou water

In die bak wat jy dit gaan laat droog neem jy die maizena voeg EERSTE bietjie water by. Net genoeg dat dit klonte vorm. NIE TE NAT MAAK NIE! Hoe natter jy die maizena maak hoe langer gaan dit neem om te droog!

Werk nou die water en maizena goed deur met die hand, breek ALLE klonte(dis n vreemde mengsel en jy het elbow ghries nodig). Gooi nou jou 2 botteltjies koekkleursel by. Met die hand werk nou die kleursel BAIE GOED deur die maizena. Breek ALLE klontjies. Sodra al die kleursel heeltemal deur gewerk is, druk dit vas in die bak en sit iewers in die son om HEELTEMAL droog te word. Goeie aanduiding om vas te stel of dit droog is, is wanneer die poeier sulke krake kry soos droë modder.

Wanneer droog kan jy dit of met n morter & pessel of in n voedsel verwerker fyn maal. Gooi dan in n oondpan in sit in die oond vir so 3 -5 min op 100° C. Dan weer maal en dan sif. Jy kan die proses weer herhaal as dit nog nie vir jou "poeierig" genoeg is nie, los net die oonddroog uit as jy weer wil maal en sif.

Vat dan klein zip lock sakkies(sien foto) en skep nie meer as 100g/4 Eetlepels per sakkie in en seël behoorlik. Maak tenminste 4 kleure en elke persoon kry dan 4 sakkies om te gooi.

Jy kom vêr met die poeier, ek het 4kg maizena gebruik en het vir 55 mense elk 4 pakkies kon gee. Dit het my ongeveer R300 gekos, maizena, kleursel en sakkies. Waar hulle my ongeveer R2800 daarvoor kwoteer en dan het almal net twee of drie 100g pakkies gekry!

As jy kans sien om dit self te maak is dit só die moeite werd en hope pret!