Thursday 19 May 2016

SOET ITALIAANSE MINI-FRIKKADELSOP




SOET ITALIAANSE MINI-FRIKKADELSOP

Bestanddele
2 e gerasperde parmesaankaas (opsioneel)
2½ t gedroogde gemengde kruie (Italiaanse kruie)...
500 g beesmaalvleis van goeie gehalte
4 e klapperolie of varkvet
1 x 410 g-blik tamatiepuree
sout en peper na smaak (ek gebruik knoffel-en-selderygegeurde sout)
1 e fyngedrukte knoffel
1 t gedroogde tiemie
2 e xylitol of ’n paar druppels stevia
2–3 k water of basiese sopbeenaftreksel (bladsy 65)
1 middelslag-eiervrug, in blokkies gesny
5 middelslag-vingerskorsies, in blokkies gesny
6 babapruimtamaties, in blokkies gesny
1 ui, in blokkies gesny of
3 sprietuie, gekap
1 groen soetrissie, in blokkies gesny
Gerasperde mozzarellakaas en gekapte vars grasuie of pietersielie vir garnering

Metode
1 Meng die parmesaankaas en ½ t van die gemengde kruie by die maalvleismengsel in. Rol dan die vleis in pruimedantgrootte frikkadelletjies. Verhit 2 e van die klapperolie in ’n groot, swaarboomkastrol en braai die frikkadelletjies tot goudbruin alkante. 2 Voeg die tamatiepuree, sout en peper, knoffel, tiemie en xylitol by. Laat dit vir 7–10 minute oor matige hitte prut, en voeg dan 1½ k van die water by.
3 Voorverhit die oondrooster. Plaas die eiervrug, vingerskorsies, tamaties, ui en groen soetrissie op ’n bakplaat met die orige klapperolie daarop. Skroeirooster die groente – roer een of twee keer deur om die kante ook geskroei te kry.
Plaas die geskroeiroosterde groente in ’n menger of voedselverwerker saam met nog ½ k van die water. Pols die menger net een keer baie vinnig sodat sowat ’n derde van die groente nog in groter stukkies is as jy van ’n growwer soort sop hou. Verwerk tot ’n puree as jy van ’n dun, gladde sop hou.
Voeg die groentemengsel by die tamatie-en-frikkadelmengsel en prut vir sowat 10 minute. Voeg nog water by indien nodig. Garneer met gerasperde mozzarellakaas en gekapte grasuie of pietersielie.