Sunday 22 May 2016

Omelet met 3 vulsel idees




Omelet
Olie, vir braai
6 eiers
90 ml water
Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
30 ml vars pietersielie, gekap

Verhit ‘n bietjie olie in ‘n pannekoekpan van 20 cm. Klits die eiers, water, geurmiddels en kruie saam. Giet die helfte van die eiermengsel in die pan en verhit stadig oor matige hitte tot goudbruin onder en amper gestol bo-op. Skep die vulsel op die een helfte van die omelet en vou die ander helfte oor die vulsel. Laat gly uit op ‘n bord. Herhaal met die orige eiermengsel. Sit voor met geroosterde tamatie en roosterbrood. Lewer twee omelette.
  •  Spinasie-en-fetavulsel
    Was 300 g spinasie en stoom tot verlep. Druk alle vog uit en kap fyn. Hou eenkant. Smelt 30 ml botter en voeg 30 ml meel by. Verhit tot dit borrel. Voeg 300 ml warm melk geleidelik by en verhit, terwyl geroer word, tot kookpunt. Geur met sout en peper. Prut liggies tot verdik en gaar. Voeg die spinasie by en krummel twee wiele fetakaas by. Skep op die omelette. Genoeg vir 2 omelette.
  •  Spekvleis-en-sampioenvulsel
    Snipper ½ pak spek en braai dit saam met 1 fyngedrukte knoffelhuisie tot gaar. Voeg 125 g gesnipperde sampioene by en braai tot gaar. Geur met sout en peper. Sprinkel 30 ml koekmeelblom oor en verhit tot dit borrel. Voeg 300 ml warm melk by en verhit, terwyl geroer word, tot kookpunt. Prut tot verdik en gaar. Skep op die omelette, rasper cheddarkaas oor en vou toe. Sit dadelik voor. Genoeg vir 2 omelette.
  •  Biltong-en-bloukaasvulsel
    Kap 1 ui fyn en braai in 30 ml botter tot sag. Voeg 250 ml klam biltongflenters by en braai tot net-net deurwarm. Verwyder van die hitte en krummel 50 g bloukaas by. Geur met sout, vars gemaalde swartpeper en vars pietersielie of tiemie. Skep op die omelette, vou toe en sit voor. Genoeg vir 2 omelette.