Tuesday 10 May 2016

Moussaka




Moussaka
Bestanddele:
1kg maer beesmaalvleis
1 groot wit ui, fyngekap...
2 groen rissies, fyngekap
2 groot eiervrugte, in dun skyfies gesny

4 aartappels, in dun skyfies gesny
1 blik gekapte tamaties met origanum en knoffel
Sout en peper na smaak
Handvol vars kruie, fyngekap
50g botter
50g koekmeel
2 koppies melk
1 koppie gerasperde kaas, ons het mozzarella gebruik
Maak dit so:
Voorverhit die oond tot 180°C.
Sprinkel sout oor die gesnyde eiervrug en laat eenkant staan. Bewaar die gesnyde aartappels in ʼn bak water sodat dit nie verkleur nie. Braai die ui tot deursigtig, gooi die groenrissies en maalvleis by en braai tot bruin, en geur dan met sout en peper. Gooi die tamatie by die maalvleis, verlaag die hitte en laat prut totdat die sap effens verdik. Smelt die botter in ’n groot pot en voeg die meel by –roer dit met ʼn houtlepel. Voeg die melk by en roer totdat die witsous verdik. Roer ’n halwe koppie van die kaas by die sous in. Verwyder van die hitte. Spoel nou die gesoute eiervrug deeglik af met water. Smeer ʼn oondvaste bak met ʼn bietjie botter. Pak ʼn laag van die aartappelskyfies onder in die bak, gevolg deur ʼn laag eiervrug, dan ʼn laag maalvleis en ʼn laag witsous. Herhaal, en eindig met ʼn laag witsous. Strooi die oorblywende kaas bo-oor. Bak vir sowat 40 minute of tot goudbruin.