Tuesday 31 May 2016

Karringmelk-kaaskoek met soutkaramel-sous



Karringmelk-kaaskoek met soutkaramel-sous
Al wat jy nodig het is…
Vir die kors
300g koekmeel
175g sagte botter
60g strooisuiker

2 eiergele
¼t vanielje essens
2E water
Vir die vulsel
300ml karringmelk
2 x 230g bakkies gewone roomkaas
150g strooisuiker
¼t vanielje essens
knippie sout
4 ekstra groot eiers
Vir die soutkaramel
75g witsuiker
75g ligte bruinsuiker
50g ongesoute botter, in blokkies gesny
200ml room
halwe teelepel fleur de sel sout (ek het Maldon gebruik)
Blits al die korsbestanddele saam in jou voedselverwerker tot die bestanddele net, net bymekaarkom. Verwyder, druk dit in ’n bol, rol dit toe in kleefplastiek en sit in die yskas vir ’n uur.
Maak intussen die soutkaramel so: Sit die wit- en bruinsuiker in ’n dieperige pot op ’n warm plaat en laat dit smelt (moenie roer nie). As die suiker alles gesmelt is en ’n mooi goue karamel kleur is, verwyder van die hitte en klits die botter in. (Dit sal gevaarlik borrel. Moenie skrik nie, dis normaal – hou net aan klits.) Klits dan die room by asook die sout. Sit opsy.
Sproei ’n losbodem-pan met Spray ’n Cook. Gebruik jou vingers om die deeg eweredig op die bodem van die pan en al langs die kante te druk. Probeer die deeg so dun moontlik hou, veral op die bodem van die pan – mik vir 2-3mm. Bak teen 180 grade Celsius vir 15 minute tot lig goudbruin. Verwyder en laat afkoel in die pan. Meng die vulsel bestanddele – wees versigtig om dit nie te veel te meng nie, ’n handklitser doen die ding. Gooi in die kors en bak teen 170 grade Celsius vir 70 minute. Skakel die oond af hou koek in die oond vir nog ’n uur. Ek verkies gebakte kaaskoek teen kamertemperatuur, maar as jy dit koud verkies, koel dit af voor jy dit in die yskas sit.