Tuesday 31 May 2016

Heksie Hartley se vrugtekoek




Heksie Hartley se vrugtekoek

Al wat jy nodig het is…
2 koppies pitlose rosyne
2 koppies goue sultanas
2 koppies korente
¼k brandewyn
2E bruinsuiker
¼k water
1½k botter, teen kamertemperatuur
1½k bruinsuiker (ek’t Selati muscovado gebruik)
6 eiers
1 x 100g houertjie gemengde sitrusskil (Moir’s s’n is net reg)
2 x 75g houertjies glacé-kersies, heel of in die helfte gesny
¾k amandels, rofweg gekap
3k koekmeel
½k brandewyn (ek het KWV se 3-jaar een gebruik)
¼t sout
1½t gemengde spesery (mixed spice)
1t fyn kaneel
2t bakpoeier
bottel lemoen of koemkwat in stroop, vir bedien
versoete geklopte room of vanielje-roomys, vir bedien
Baie vrugtekoek resepte vra dat jy die vrugte oornag in brandewyn week. ‘Never mind’ laaste in die tou, ek was glad nie in die kamer toe geduld uitgedeel is nie. Dus help ek die spulletjie aan deur die rosyne, sultanas en korente vir vyf minute te kook saam met ’n kwart koppie brandewyn, kwart koppie water en 2E suiker. Laat die vrugte in die vloeistof afkoel en dreineer daarna.

Drink ’n koppie tee, bel jou ma en berei jou pan terwyl jy wag dat die vrugte afkoel. Smeer die pan met botter en bedek die bodem met twee sirkels bakpapier. Voer die kante van die pan met ’n dubbele laag bakpapier wat 4cm bo die rand van die pan uitsteek.

Verroom die botter en die suiker goed. Voeg die eiers een op ’n slag by en klits. Voeg die gedreineerde vrugte, sitrusskil en neute by en roer deur. Sif die meel, bakpapier, sout en speserye oor en meng deur. Gooi laaste die brandewyn in en meng goed.

Hierdie vrugtekoek deeg is hopeloos te dik vir gooi, jy sal die mengsel met ’n groot lepel in die voorbereide koekpan moet skep. Bak teen 160 grade Celsius vir 90-120 minute. Toets na 90 minute deur ’n dun mes of sosatiestokkie in die middel van die koek te steek. As dit skoon uitkom, is die vrugtekoek gaar. Verwyder en gooi twee eetlepels brandewyn oor terwyl nog warm.

Laat die vrugtekoek afkoel en draai dit dan stewig toe in foelie en laat dit ryp word vir twee weke. Gee hom nog twee eetlepels brandewyn halfpad deur.