Tuesday 17 May 2016

Huiskok se Marrokaanse hoendersop




Huiskok se Marrokaanse hoendersop

Bestanddele

250 ml ongekookte Greenwheat freekeh (die gestampte variant is besonder lekker)
5 ml sout
50 g botter
450 g hoenderborsies, in repies gesny
1 ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, gekneus
7,5 ml meelblom
15 ml harissa
1 liter hoenderaftreksel
400 g tamaties, fyngekap
sout en varsgemaalde swartpeper
Opsioneel: 1 x 400 g blik kekerertjies, afgespoel
Vir opdiening: chermoula-freekeh-krummels, dun snytjies rou beet (verkieslik op mandolien gesny, suurroom en flitsgebraaide kruisementblare. Suurlemoenskyfies.
Chermoula-freekeh-krummels
50 g sagte botter
30 ml vars koljander, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
5 ml gemaalde komyn
1 rooi rissie ontpit en fyngekap
‘n knippie saffraan
gerasperde skil van ‘n halwe suurlemoen
5 ml paprika
1 koppie gekookte freekeh (of 1 koppie droë broodkrummels)
Metode
Kook die freekeh: Plaas 250 ml graan, sout en 500 ml water in diep bak, bedek en mikrogolf 10 minute op hoof. Laat staan vir 5 minute. Skep 1 koppie uit vir die chermoulakrummels en behou die res vir die sop.
Smelt die botter in ‘n kastrol. Voeg die hoenderrepies by en braai vir 5 - 6 minute. Roer tot dit begin bruin word. Verwyder die hoender met ‘n gaatjieslepel en laat staan eenkant.
Voeg die uie en knoffel in die pan en kook stadig vir 4 - 5 minute tot sag, maar nie bruin nie.
Roer die meelblom by en roer aanhoudend tot die mengsel begin bruin word. Roer die harissa by en kook vir nog 1 minuut. Voeg die hoenderaftreksel geleidelik by en kook vir nog 2 - 3 minute en die sop effens dikker word. Roer die tamaties by. Voeg nou die hoender by (as jy kekerertjies wil byvoeg, doen dit nou). Plaas die deksel op en kook oor lae hitte vir 15 minute. Voeg genoeg van die gaar freekeh by tot die sop die verlangde dikte is. Geur met sout en varsgemaalde peper.
Maak intussen die Chermoula botter: Plaas die botter in ‘n bakkie en klop die koljander, knoffel, rooirissie, komyn, saffraan, suurlemoenskil en paprika by. Meng goed en roer die  afgekoelde freekeh by.
Vir garnering: Braai 2 - 3 kruisementblare op ‘n slag in warm olie vir ‘n paar sekondes tot bros, maar steeds groen. Dreineer.
Skep die sop in warm sopbakkies. Skep ‘n lepel Chermoula-freekeh-krummels bo-op, met ‘n skeppie suurroom langs dit. Plaas 2 - 3 skyfies rou beet by en rond af met brosgebraaide kruisementblaartjies.