Wednesday 4 May 2016

Frikkadelle met tamatierys



Frikkadelle met tamatierys
Frikkadelle
■ 1 dik sny brood, verwerk tot krummels
■ 800 g beesmaalvleis
■ 1 ui, gerasper
■ 10 ml fyn komyn
■ 10 ml gemaalde koljander
■ 5 ml sout
■ 5 ml vars gemaalde swartpeper
■ 15 ml gekapte vars pietersielie
Tamatierys
■ 375 ml witrys
■ 45 ml olyfolie
■ 2 uie, gekap
■ 2 knoffelhuisies, fyngekap
■ 30 ml tamatiepasta
■ 2 blikke (410 g elk) gekapte tamaties
■ 375 ml water
■ Sout, vars gemaalde swartpeper en suiker na smaak
Voorverhit die oond tot 180°C en smeer ’n oondbak goed met olyfolie.
Meng al die bestanddele vir die frikkadelle saam, bedek en verkoel terwyl jy die res van die gereg voorberei. Skep rys in die gesmeerde oondbak en versprei egalig.
Maak nou die tamatiesous: Verhit die olie in ’n swaarboompan en braai die uie en knoffel daarin tot die uie sag is. Voeg die tamatiepasta by en braai vir ’n paar sekondes. Voeg die gekapte tamaties en water by. Verhit tot kookpunt en prut vir 10-12 minute. Geur met sout, peper en suiker na smaak. Skep die helfte van die tamatiesmoor oor die rys in die oondbak.
Haal die frikkadelmengsel uit die yskas en vorm 12 ewe groot frikkadelle. Pak dit bo-op die rys-en-tamatiesmoor en skep die res van die tamatiesmoor bo-oor die frikkadelle. Bedek met foelie en bak vir 40 minute. Laat staan vir ’n paar minute en sit warm voor. Lewer 6 groot porsies.