Wednesday 4 May 2016

Basiese tamatiesous



Basiese tamatiesous

 

 
’n Basiese tamatiesous is iets wat ’n mens maar in grootmaat kan voorberei en óf in glasflesse in die yskas kan hou óf in ysbakkies kan vries vir ’n vinnige ete. Hierdie sous is ook heerlik as ’n pastasous, oor mieliepap saam met braaivleis en selfs saam met ’n stukkie wors of steak. Die resep maak ongeveer 750 ml sous.

Bestanddele
15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie
2 uie, gekap
2 knoffelhuisies, gekneus
15 ml (1 e) gerasperde vars gemmer
2,5 ml (½ t) vinkelsaad (opsioneel)
2 wortels, grof gerasper
1 kg ryp tamaties, geskil en gekap
30 ml (2 e) gedroogde gemengde kruie of origanum
75 ml (5 e) gekapte vars kruie van jou keuse
1 lourierblaar
15 ml (1 e) balsamiese asyn
10 ml (2 t) sagte bruinsuiker
sout en peper

Metode
1. Verhit die olie oor matige hitte in ’n kastrol en soteer die uie en knoffel tot sag. Voeg die gemmer, vinkelsaad en wortels by en soteer vir nog ’n paar minute.
2. Roer die tamaties, gedroogde en vars kruie, lourierblaar, asyn en suiker by.
3. Prut oor lae hitte, met ’n deksel, vir 15 minute. Haal die deksel af en prut nog 15 of tot sous effens verdik het en geurig is.
3. Geur na smaak en verwyder die lourierblaare. Verpulp met ’n stokmenger. Die sous kan nou verkoel en gevries word vir latere gebruik.

Wenke
1. Parmigiana, ’n Italiaanse bykos wat met ’n soortgelyke tamatiesous en skywe eiervrug gemaak word, is heerlik. Soteer 2 eiervrugte, in skywe gesny, met ’n bietjie olyfolie in ’n pan. Pak eiervrugskywe in lae met die sous tussen in. Strooi 125 ml (½ k) gerasperde mozzarellakaas bo-oor. Bak teen 200 °C vir 20 - 30 minute of tot goudbruin en gaar. Sit voor met vars basiliekruidblare.
2. Roer ’n blik kekerertjies en gaar botterskorsie by die sous vir ’n vegetariese maaltyd.
3. As die tamaties nie rooi genoeg is nie, roer 15 - 30 ml tamatiepasta by die sous vir ’n dieper kleur.