Monday 18 April 2016

Sjokolademousse-koek




Sjokolademousse-koek

Genoeg vir: 10-12 porsies
Bereidingstyd: 45 minute
Oondtemperatuur: 180 °C
Baktyd: 30 minute
• 100 g kakao
• 100 g donkersjokolade, in blokkies gebreek
• 200 g botter, kamertemperatuur
• 325 g ligte bruinsuiker
• 275 g bruismeel
• 2,5 ml bakpoeier
• 3 eiers, geklits
Sjokolademousse-vulsel• 450 g donkersjokolade, in blokkies gebreek
• 500 ml room
• 6 eiergele
• 80 ml strooisuiker

1 Voorverhit die oond. Smeer ’n 23 cm-losboomveerklamppan en voer die bodem ook met gesmeerde bakpapier uit. Klits die kakao en 300 ml kookwater tot glad. Roer die gekapte sjokolade by tot gesmelt en laat staan tot afgekoel. Roer dit af en toe. Klits die botter en suiker tot lig en donsig. Voeg die eiers een-een by en klits dit deeglik ná elke byvoeging. Sif die bruismeel en bakpoeier saam en vou dit by die eiermengsel in met ’n groot metaallepel. Vou dan die afgekoelde sjokolademengsel ook in. Skep die beslag in ’n koekpan en bak dit vir sowat 25 -30 minute of tot die koek gaar en uitgerys is en van die kante van die pan wegtrek. Keer dit op ’n draadrakkie uit en laat afkoel.
2 Berei die sjokolademousse-vulsel Smelt die sjokolade en room saam in ’n kastrol oor lae hitte totdat die mengsel glad is. Plaas die eiergele en suiker in ’n glasbak oor ’n kastrol met warm water wat stadig prut, maar die glasbak mag nie aan die water raak nie. Klits die eiergele en suiker tot dik en romerig. Haal dit van die plaat af en vou die afgekoelde sjokolademengsel by die eiermengsel. Plaas in die yskas vir sowat 30 minute.
3 Stel die koek saam Keer die koek uit die koekpan. Sny die koek horisontaal in die helfte en plaas die een helfte terug in die koekpan. Giet of smeer die helfte van die sjokolademoussevulsel oor die koeklaag in die pan. Plaas die ander koeklaag versigtig bo-op en giet die res van die sjokolademousse-vulsel bo-oor. Sit dit terug in die yskas tot die sjokolademousse gestol is. As jy gereed is om dit voor te sit, draai ’n warm lap om die koekpan sodat die sjokolademousse wat langs die kante van die koekpan ingeloop het kan loskom en sodat jy die koek kan uitkeer. Keer dit versigtig uit en gebruik ’n paletmes om die sjokolademousse langs die kante van die koek netjies te maak. Versier dit met sjokoladeballe, as jy wil, en sit voor.