Wednesday 20 April 2016

Sjokolade-en-nartjiekoek




Sjokolade-en-nartjiekoek

Genoeg vir: 10-12
Bereidingstyd:
112 uur
Gaarmaaktyd:
112 uur
Oondtemperatuur:
170 °C



Koek
• 10 groot eiers, geskei
• 320 g (370 ml) strooisuiker
• 25 ml suurlemoensap
• 200 g (370 ml) koekmeel
• 40 g (125 ml) kakaopoeier

Vulsel en sjokoladeganache-versiersel
• 750 ml room
• 250 g donkersjokolade
• 100 ml Frangelico-likeur, of gebruik brandewyn
• sap van 1 varsuitgedrukte nartjie
• 30 ml fyngerasperde nartjieskil
• versuikerde nartjieskyfies (resep hieronder)
• eetbare blomme, vir garnering

1 Sjokoladeganache Verhit 250 ml van die room en die sjokolade in ’n glasbak bo ’n kastrol met water wat liggies prut. Wag tot die sjokolade begin smelt en roer dit dan tot dit heeltemal glad is. Haal die kastrol van die plaat af. Laat die mengsel afkoel voor jy dit in die yskas sit.

2 Koek Klits die eierwitte tot dit styf is, maar oppas om dit te veel te klits. Begin dan om 200 g van die strooisuiker bietjies-bietjies by te klits tot die meringue dik en blink is. Klits die suurlemoensap by en sit dit eenkant.

3 Klits die eiergele in ’n aparte bak tot dit liggeel en donsig is. Voeg die orige strooisuiker by en klits dit verder tot dit dik en romerig is.

4 Vou die twee eiermengsels baie liggies bymekaar.

5 Meng die meel, kakao en ’n knypie sout saam. Sif ’n lagie oor die eiermengsel en vou dit liggies in. Herhaal dit met nog lae meel tot alles ingevou is.

6 Verdeel die beslag versigtig tussen twee gesmeerde 22 cm-veerklamppanne en bak dit vir 30 minute in die verhitte oond of tot die koek begin wegtrek van die kant van die pan en ’n toetspen skoon uitkom. Haal dit uit die oond en laat dit heeltemal afkoel.

7 Sit die koek aan mekaar Sny elke koek horisontaal in die helfte. Meng die likeur met die sap van die nartjie. Skep ’n bietjie van hierdie mengsel oor die bokant van elke stuk koek.

8 Klits die orige room styf en roer die nartjieskil daarby. Smeer ’n laag van die roommengsel oor die onderste helfte van die een koek. Sit die ander helfte bo-op, smeer nog room oor, sit die volgende koekhelfte bo-op en herhaal die proses.

9 Klits die sjokoladeganache tot dit glad is. Smeer dit oor die bokant en om die kant van die koek. Pak die versuikerde nartjieskyfies bo-op en drup ook van die stroop uit die flessie bo-oor. Versier die koek met eetbare blommetjies en hou dit in die yskas tot jy reg is om dit voor te sit.

Versuikerde nartjieskyfies
1
Sny 2 nartjies in skywe, pak dit in ’n groot, vlak kastrol en bedek dit met water. Verhit dit tot kookpunt, verlaag die hitte en laat dit vir 3 minute liggies prut. Haal die kastrol van die plaat af, dreineer die nartjieskywe en sit dit eenkant. Gooi die water weg.

2 Gooi 350 ml water en 150 g suiker in die kastrol. Verhit dit oor lae hitte, roer dit tot al die suiker opgelos het en pak dan die nartjieskywe in die stroop. Bedek die bokant van die vloeistof met ’n sirkel bakpapier en laat dit vir 35-40 minute baie liggies prut tot die nartjies doeksag is.

3 Skep die skywe nartjie met ’n gaatjieslepel uit en sit dit eenkant. Voeg die sap van 1 nartjie by die vloeistof in die kastrol en laat dit verder afkook tot daar omtrent 150 ml oor is. Gooi die sous oor die nartjieskywe en laat dit afkoel. Hou dit in die yskas tot jy reg is om dit voor te sit.