Friday 22 April 2016

“Plankie-vleis” en platbrood




“Plankie-vleis” en platbrood
Renette Vosloo se ontbeende lamsboud sorg vir ’n eenvoudige maaltyd wat sommer vanaf ’n houtbord geniet kan word.

Bestanddele:
1x Lamsboud (ontbeen – 200g tot 250g)
Sout en peper
Robertson’s Steak & Chop-speserye of Ina Paarman se roosmaryn-en-olyf-kruie-sout
Fyngekapte vars roosmaryn en tiemie
Roosmaryn-takkies
Olyfolie

Aïoli (knoffelmayonnaise)
150ml Olyfolie (effens meer as ’n halwe koppie)
2 x Knoffelhuisies, fyn gekap en goed met sout bedek en gemeng om ’n pulp te vorm
1 x Eiergeel
30ml Suurlemoensap (2 eetlepels of die sap van 1 groot suurlemoen)
Ansjovis (na smaak)
 
Platbrood
Vetkoek- of brooddeeg
Pastaroller
Olyfolie
Vars knoffel en kruie of songedroogte tamatiepesto

Metode:
Stap 1: Vlek lamsboud oop.
Stap 2: Meng speserye, sout, peper en olyfolie saam in ’n mengbak.
Stap 3: Vryf sous deeglik in vleis in.
Stap 4: Sit vleis op rooster, op warm kole (vet kant eerste), asook ’n klip-bord of pizza-klip vir die platbrood.
Stap 5: Vorm die broodjie met die brood- of vetkoekdeeg. Vryf met olyfolie.
Stap 6: Rol die rou platbrood deur die pasta-roller. Wanneer klip-bord warm is, plaas rou broodjies daarop. Hou vleis dop en draai om soos benodig.
Stap 7: Meng eiergeel, suurlemoensap en ongeveer 200ml olyfolie saam. Olyfolie moet geleidelik bygevoeg word. Die eier en die olie moet dieselfde temperatuur wees.
Stap 8: Wanneer sous dik en goed gemeng is, kap knoffel, sout en ansjovis so fyn as moontlik op ’n snybord.
Stap 9: Voeg die ansjovis-mengsel by die mayonnaise en roer goed deur.
Stap 10: Haal die vleis van die kole af sodra dit gaar is. Plaas vleis op plankie (vet kant bo) en sny in repies (2mm-3mm dik).
Stap 11: Plaas roosmaryn, suurlemoen-skywe en speserye in hopies op die plankie. Skep aïoli in opdienbakkie en plaas op die hoek van houtbord.
Stap 12: Haal gaar platbroodjies van kole af.

Opdieningsvoorstel: Bedien op ’n houtbord. Smeer ’n repie vleis deur speserye van keuse en aïoli en eet saam met die platbroodjie