Tuesday 5 April 2016

PANNEKOEK LASAGNE



PANNEKOEK LASAGNE
Hou jou lyf Italiaans
(vir 6-8 mense)
JY BENODIG:
12 pannekoeke
VIR DIE VULSEL:
olie vir panbraai
1 groot ui, fyngekap
1 wortel, geskil en gerasper
1 knoffelhuisie, fyngedruk
500 g maalvleis
1 blik (410 g) heel tamaties
1 eetlepel tamatiepasta
sout en peper na smaak
’n knippie suiker
’n hand vol vars pietersielie, gekap
VIR DIE KAASSOUS:
3 eetlepels botter
6 eetlepels koekmeel
3 koppies melk
½ koppie kaas van jou keuse, gerasper (ons het sterk cheddar gebruik)
SO MAAK JY:
Maak eers die vulsel. Verhit die olie in ’n pan en braai die ui tot sag. Voeg die wortel en knoffel by en braai dit vir nog ’n paar minute.
Voeg dan die maalvleis bietjies-bietjies by en braai dit tot goudbruin. Maak die klonte met ’n vurk fyn sodat die vleis eweredig verbruin.
Roer die tamatie by en geur dit met sout en peper na smaak. Proe aan die vleis en geur dit verder met ’n knippie suiker en die pietersielie. Prut alles vir 10 minute en hou dit eenkant.
MAAK DIE KAASSOUS:
Smelt die botter in ’n pot oor matige kole (of gebruik ’n gasbraai). Roer die meel by en braai dit vir ’n minuut. Gooi nou die melk bietjies-bietjies by die meelmengsel en roer dit aanhoudend. Prut die sous vir 15 minute en roer dit die heeltyd om te keer dat klonte vorm.
Gooi die kaas by en geur dit met sout en peper voordat jy dit vir oulaas deurroer.
Maak die pannekoeklasagne. Skep 2 eetlepels vleis in die middel van elke pannekoek, gevolg deur 1 eetlepel kaassous. Vou dit toe in ’n driehoek, pak dit in ’n stapel en sit dit dadelik voor.
WENK: Probeer ’n hand vol gekapte koljanderblare vir ’n skerper smaak saam met die vleis.

(WEG)