Friday 22 April 2016

Macaroni-en-kaas-koekies met groenboontjie-slaai




Macaroni-en-kaas-koekies met groenboontjie-slaai
Juanita de Villiers gee die geliefde macaroni-en-kaas ’n kinkel.
Bestanddele:
• 1 Koppie rou macaroni
• ½ Koppie volroommelk
• 2 Eetlepels mielieblom
• ’n Knippie paprika
• 1 Teelepel mosterd
• Sout na smaak
• 1 Koppie sterk cheddar, gerasper
• 2 Grasuie, fyngekap
• 1 Koppie fyn broodkrummels
• Botter vir braai
Groenboontjie-slaai:
• 1x Pakkie dun groenboontjies
• Knoffelvlokkies
• 1x Ui
• Bruinasyn
• Olyfolie
• 1x Pakkie spek, fyn gekap
• Amandelvlokkies
Metode (macaroni-koekies):
Stap 1: Kook die macaroni in soutwater volgens die aanwysings op die pakkie.
Stap 2: Dreineer die pasta sodra dit amper al dente (sag maar ferm) is.
Stap 3: Spoel dit af met koue water.
Stap 4: Verhit die melk in ’n potjie tot kookpunt.
Stap 5: Meng die mielieblom met 4 eetlepels water en roer dit deur die melk.
Stap 6: Hou aan roer totdat dit een keer gekook het en begin verdik. As dit nie verdik nie, maak nog ’n bietjie mielieblom aan en roer dit deur. Verwyder die witsous van die hitte en geur dit na smaak met paprika, mosterd en sout.
Stap 7: Gooi die gedreineerde pasta, kaas en grasuie by die witsous en roer dit goed deur.
Stap 8: Gooi die krummels in ’n bak. Skep twee eetlepels van die macaroni-mengsel in die krummels en vorm ’n bol wat met krummels bedek is.
Stap 9: Verhit ’n pan, smelt die botter daarin en plaas ’n macaroni-bol daarin.
Stap 10: Druk dit effens plat met ’n eierspaan en braai dit tot dit ’n bros goudbruin korsie aan die onderkant vorm. Wees geduldig. Draai die koekie versigtig met die eierspaan om en braai ook die ander kant tot goudbruin.
Stap 11: As die koekies uitmekaar val, sprinkel ’n bietjie meel oor die macaroni-mengsel om dit te bind.
Stap 12: (As jy te honger is, eet sommer die koekies net so uit die pan terwyl die kaas nog sag is!)
Groenboontjieslaai:
Stap 1: Kook boontjes ongeveer 15 min tot sag. Spoel af met water en dreineer goed.
Stap 2: Braai die uie tot bruin in olyfolie, gooi die spek saam en braai tot gaar. Meng die knoffel, asyn, sout en pepper na smaak by.
Stap 3: Gooi oor die boontjes in ’n plat glasbak. Roer alles goed deur en sprinkel amandelvlokkies bo-oor!
Dik kruisstyf, in lae gesny:
Smeer kruisskyf voor die tyd met olyfolie en voeg swartpeper en growwe sout (seesout) by na smaak. Braai na smaak.
Opdieningsvoorstel: Skep macaroni-en-kaas-koekies op terwyl die kaas nog sag en warm is, en bedien saam met groenboontjie-slaai en bees-kruisskywe.