Wednesday 20 April 2016

Maalvleis-en-ricottapastei




Maalvleis-en-ricottapastei

Ricotta is ’n veelsydige bestanddeel en boonop laag in vet. Probeer gerus dié smulresep.
Genoeg vir: 4 porsies
Bereidingstyd: 35 minute
Oondtemperatuur: 200 °C
Baktyd: 35 minute

• 30 ml olyfolie
• 1 ui, gekap
• 2 knoffelhuisies, gekneus
• 2 wortels, gerasper
• 2 selderystingels, fyngekap
• 750 g maalvleis
• 1 blik gekapte tamaties
• 30 ml worcestersous
• sout en gemaalde swartpeper na smaak
• 500 ml ricotta
• 2 eiers
• 15 ml vars origanum
• 80 ml gerasperde mozzarella

1 Voorverhit die oond. Verhit die olyfolie in ’n groot kastrol en soteer die ui tot sag en glansend. Voeg die knoffel by en roerbraai vir nog ’n minuut. Roer die wortel en seldery by en roerbraai tot sag.
2 Voeg die maalvleis by en roer dit met ’n groot vurk om die klonte op te breek sodat dit korrelrig is en die vleis eweredig kan braai.
3 Voeg die tamaties, worcestersous, sout en swartpeper by en laat dit kook. Prut vir sowat 15 minute of totdat dit verdik. Skep in ’n vuurvaste bak (inhoudsmaat sowat 1 liter).
4 Meng die ricotta, eiers, origanum en mozzarella in ’n mengbak en skep dit bo-op die maalvleis. Bak tot goudbruin, sowat 25-30 minute.