Monday 4 April 2016

Kosbakkies op Weber




Margaret Van Eck Schoeman
Liewe Vriendinne wat graag hierdie resep wou gehad het. Dis die Kosbakkies wat ek en my man (ja, ons twee maak gereeld kos saam) aanmekaar geslaan het op die Weber Ketelbraai.

BESTANDDELE:
(Resep vir vier mense)
750g Goeie gehalte dik boerewors (ook hoenderstukkies)...
1 Groot ui grof gekerf
2 Groot aartappels in skywe gesny
Sampioene na smaak in skywe gesny
1 t Fyn gekapte knoffel (na smaak)
Braaivleisspeserye
1 Suurlemoen
Blatjang na smaak
1 Pakkie Tamatiepasta
Worcestersous na smaak

SO MAAK MENS:
Berei twee alluminium vriesbakkies voor - smeer bietjie Olyfolie onderin en verdeel die bestanddele tussen die twee bakkies.
Gooi van die gesnipperde uie onder in die bakkie
Plaas stukkies wors op die uie
Plaas aartappels en orige gekerfde uie op die wors
Plaas gesnyde sampioene op die aartappels
Nou plaas die knoffel oor die inhoud
Gooi Braaivleisspeserye oor na smaak
Dan maak die volgende aan met 'n bietjie kookwater: Blatjang, Tamatiepasta en Worcestersous en giet bo-oor die inhoud. Druk die sap van 'n halwe suurlemoen bo-oor. Soms gooi ons sommer 'n skeut rooiwyn ook by.

Maak 'n dekseltjie van swaardiens foelie (blinkkant na binne) bo-oor die bakkies.
Plaas in Weber teen 150grade (jy kan dit in 'n stoof oond ook plaas) vir 45 minute.

Ons het in 'n aparte tinfoelie bakkie gemengde groente soos patats, rooi uie, pampoen, klein worteltjies, ens. - groente na jou smaak gaargemaak - ook met swaardiens foelie bedek blinkkant na onder. Ons het die groente gegeur met sout en swartpeper en gemengde speserye - besprinkel met olie.

Na 45 minute verwyder die tinfoelie vanaf die bakkies en braai so oop vir ongeveer 15 minute.
Dis so maklik om bymekaar te sit en jy kan enige ander groente bysit waarvan jy hou.

Soos een van die vriendinne gese het, wanneer die kos eers in die Weber/oond is, kan jy terugsit en die geselskap geniet of dalk na rugby op TV of radio luister.

GENIET DIT