Friday 22 April 2016

Biefstuk-gereg met rooiwynsous




Biefstuk-gereg met rooiwynsous
Gebruik ’n dystuk vir dié resep van Burgerd Botha.
Bestanddele:
• 1x Groot dystuk (biefstuk)
• 2x Uie
• Knoffel (1 huisie of reeds gekap in ’n houertjie)
• 1x Suurlemoen
• 1x Groen Appel
• 1x Pakkie Sampioene
• Growwe Sout
• Swartpeper
• Vars botter
• Olyfolie
• Heuning of Bruinsuiker
• Basiliekruid
• Roosmaryn
• Tiemie
• Marokkaanse Vleisspesery
Metode:
Stap 1: Braai dystuk liggies in ’n pan met bietjie olyfolie, growwe sout, peper, knoffel en ’n tikkie suurlemoensap totdat dit mooi geseël is. Haal vinnig af en plaas op ’n bord om af te koel.
Stap 2: Kap uie en braai liggies tot deurskynend – voeg dan ’n bietjie fyngekapte sampioene by en braai goed met kruie na smaak.
Stap 3: Sny solank die koue dystuk in skyfies so dik soos verlang.
Stap 4: Voeg rooiwyn, ’n bietjie heuning/suiker en suurlemoensap by die uie en sampioene in die pan. Hou aan op medium-hitte (pasop vir brand!) totdat die sousie bietjie dikker is.
Stap 5: Braai die skyfies dystuk in die sousie – net vinnig en met ’n warm pan.
Stap 6: Voeg maar rojaal die basiliekruid en ander speserye by na smaak.
Opdieningsvoorstel: Geniet saam met ’n heerlike kaas-en-uie-broodjie.