Wednesday 16 March 2016

Paaseier-verrassing




Paaseier-verrassing

Sjokoladekoekies

Maak: 6-8 Bereidingstyd: 20 minute, plus yskastyd
Baktyd:
10-12 minute
Oondtemperatuur:
170 °C



Jy benodig
• 120 g koue botter, in klein blokkies gesny
• 15 ml kanola-olie
• 55 g witsuiker
• 70 g melassesuiker
• 1 groot eier
• 160 g koekmeel
• 40 g mielieblom
• 60 g kakaopoeier, gesif

1 Gebruik ’n elektriese klitser en room die botter, olie, witsuiker en melassesuiker saam. Voeg die eier by en klits dit tot dit ingemeng is.

2 Meng die meel, mielieblom en kakaopoeier. Gebruik ’n groot lepel om die droë bestanddele by die bottermengsel in te roer tot alles goed gemeng is.

3 Volg die aanwysings hieronder om die Paaseier-koekies met die soet verrassing binne-in te maak en dit te versier.

Sjokoladebotterversiersel
Meng 45 g (50 ml) botter (teen kamertemperatuur) met 100 g (190 ml) gesifte Huletts Icing Sugar en 25 g (50 ml) gesifte kakaopoeier tot dit glad is. Gooi ’n paar druppels warm water by om dit loperiger te maak, indien nodig.

Moeilikheidsgraad: maklik
Tyd:
1 uur

Jy benodig
• sjokoladekoekie- en versierselresep hierbo
• fondant in verskillende pastelkleure
• klein lekkergoed om binne-in te gebruik
• mielieblom
• eiervorm-koekiedrukker (of gebruik ’n ronde koekiedrukker)
• kleiner ronde koekiedrukker
• koekversiertoerusting om patrone te maak
• spuitsak

1 Volg die resep hierbo om die deeg vir die koekies te maak. Rol die deeg tussen twee velle bakpapier of kleefplastiek uit tot dit omtrent 4 mm dik is.


2 Gebruik ’n eiervorm-koekiedrukker om vier vorms vir elke koekie uit te druk. Pak dit op ’n bakplaat wat gesmeer en met bakpapier gevoer is en druk of sny ’n kleiner sirkel uit die helfte van die koekies. Bak dit volgens die aanwysings en laat dit op die bakplaat afkoel.


3 Maak die versiersel (hierbo), skep dit in ’n spuitsak en sny die puntjie af. Spuit ’n strepie al om die buiterand van ’n soliede koekie. Sit ’n koekie met ’n uitgesnyde middel bo-op. Spuit weer ’n strepie versiersel om die rand van die koekie met die gat in die middel en sit ’n tweede koekie met ’n gat in die middel bo-op.


4 Vul nou die gat in die middel met klein lekkergoed. Spuit weer ’n strepie al om die buiterand van die koekie en sit dan ’n soliede koekie bo-op. Vee enige versiersel wat aan die buitekant uitpeul, netjies af.


5 Rol die fondant uit op ’n oppervlak wat rojaal met mielieblom bestrooi is. Sny eiervorms uit die fondant en vee die oortollige mielieblom aan die onderkant af.


6 Gebruik klein vormpies of koekversierstokkies om patrone in die fondant te maak. Verf ’n klein bietjie water aan die onderkant van die fondant en plak dit op elke koekie- en-lekkergoedstapeltjie vas.