Wednesday 9 March 2016

Kosblik 2




Kosblik 2
Smul aan: ’n Varsgebakte framboos-en-sjokoladesplintermuffin, biltong, aarbeie, kaasblokkies en soetrissie-repies. Die muffin sorg vir ’n bietjie bederf in dié gesonde kosblik. Voel vry om kreatief te raak met die muffin – jy kan bloubessies en selfs gekapte aarbeie gebruik pleks van die frambose en sjokoladesplinters.
Jy kan ook kersietamaties en komkommerblokkies saam met die kaasblokkies op die tandestokkies ryg.

Framboos-en-sjokoladesplintermuffins
Maak 12 muffins.
Jy het nodig:
100 g botter by kamertemperatuur
100 g bruinsuiker
2 eiers
250 ml melk
300 g meel
10 ml bakpoeier
2 ml sout
125 ml sjokoladesplinters
1 houertjie (sowat 250 ml) vars frambose, afgespoel
So maak ’n mens:
1. Voorverhit die oond tot 190 °C. Bespuit die holtes van ’n kolwyntjiepannetjie met kleefwerende kossproei.
2. Verroom die botter in ’n mengbak en klits dan die bruinsuiker en die eiers by. Klits tot deeglik gemeng. Klits dan die melk by. Dit sal lyk of die mengsel skif, maar hou moed.
3. Sif die droë bestanddele in die mengbak met die eiermengsel en klits dan tot net gemeng. Roer die sjokoladesplinters by en dan baie versigtig die frambose (probeer om hulle nie te breek nie).
4. Skep die deeg in die voorbereide pan – jy kan die holtes lekker vol maak. Bak sowat 25 minute tot gaar in ’n voorverhitte oond. Bêre in ’n lugdigte houer.