Thursday 17 March 2016

3-in-1-Paasgebak




3-in-1-Paasgebak

DEEGKRANS

300 ml melk
50 g botter
500 g broodmeel
10 g sakkie gis
75 g strooisuiker
5 ml (1 t) sout
1 geklitste eier
15 ml (1 e) sonneblomolie
100 g gemengde vrugte (rosyne & sultanas)
50 g gemengde sitrusskil (of die fyngerasperde skil van 1 lemoen)
5 ml (1 t) kaneel
5 ml (1 t) gemengde speserye
2,5 ml (½ t) neutmuskaat

VRUGTEBOTTER

100 g botter (kamertemperatuur)
100 g strooisuiker
150 g gemengde vrugte (rosyne & sultanas)
5 ml 1 t kaneel
5 ml 1 t gemengde speserye

BOLAAG

60 ml (2 e) appelkooskonfyt

GLANSVERSIERSEL

100 g versiersuiker
water
  1. Deegkrans. Verhit die melk en botter saam totdat die botter gesmelt het. Laat afkoel tot louwarm.
  2. Plaas die broodmeel, gis, strooisuiker en sout saam in ‘n mengbak. Plaas die sout aan die een kant van die bak en die gis aan die ander kant – nooit in direkte kontak met mekaar nie.
  3. Voeg die melkmengsel en geklitste eier by en roer met ‘n lepel tot gemeng.
  4. Knie die deeg goed op ‘n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is tot elasties en glad (ongeveer 10 minute – dit is baie terapeuties en bevredigend om te sien hoe die taai deegmengsel bymekaarkom en ‘n gladde, elastiese deeg vorm).
  5. Plaas in ‘n bak wat liggies met sonneblomolie gesmeer is en bedek met kleefplastiek wat liggies met sonneblomolie gesmeer is en laat dit vir sowat ‘n uur tot dubbel in grootte rys.
  6. Knie die deeg af, knie die vrugte, sitrusskil, kaneel, gemengde speserye en neutmuskaat by tot goed gemeng en laat vir nog ‘n uur verder rys.
  7. Knie die deeg af en rol uit in ‘n groot reghoek (30 cm x 40 cm – soos ‘n rolkoek).
  8. Vrugtebotter. Meng die vrugtebotterbestanddele.
  9. Smeer die vrugtebotter oor die deeg en rol op soos ‘n rolkoek.
  10. Plaas op ‘n bakplaat wat met bakpapier gevoer is en vorm in ‘n ring. Druk die punte bymekaar en sny skywe so ¾ deur die ring in die rondte om ‘n “waaier” te vorm.
  11. Bedek vir oulaas met kleefplastiek en laat vir ‘n uur rys.
  12. Bak in ‘n voorverhitte oond teen 200 °C vir ongeveer 25 minute of tot gaar.
  13. Bolaag. Smelt die appelkooskonfyt in die mikrogolf en verf oor die krans sodra effens afgekoel.
  14. Glansversiersel. Meng die versiersuiker met ‘n bietjie water tot glad en loperig en gooi met ‘n lepel oor Paasbolletjiekrans sodra afgekoel.