Sunday 21 February 2016

Soetgoed vir lekkerbekke




Nougat400g suiker (500ml)
300g goue stroop (200ml)
250ml water
3 eierwitte
5ml Vanilla-ekstrak
40g geglaseerde rooi kersies
40g geglaseerde groen kersies
100g gepelde (geskil) en gekapte amandels
75g pekanneute

Metode
Meng die helfte van die suiker, stroop en water. Roer todat die suiker opgelos is en kook dan tot die sogenaamde hardebal-stadium of tot die termometer sê 120°C. Klop die eierwit tot styf, maar nie droog nie, voeg die stroop stadig by terwyl die mengsel geklop word. Terwyl jy klop, bring die oorblywende helfte van die suiker, stroop en water tot kookpunt en kook weer tot die hardebal-stadium. (120°C).

Verwyder van die stoof en voeg stadig by die eerste mengsel terwyl jy deurlopend klop. Voeg die Vanilla, kersies en neute by. Druk nou die taaierige mengsel tot ‘n dikte van sowat 20cm in ‘n oondpan/bak wat jy met ryspapier uitgevoer het. Bedek ook die bokant van die mengsel met ryspapier nadat jy die soetbeslag ingegooi het en probeer om ‘n redelik-swaar maar plat onderwerp bo-op die “toffie” te plaas sodat dit ‘n plat en gelyke afwerking het. Laat afkoel en laat vir ‘n dag of twee staan voordat jy die Nougat in 15 x 25mm stukkies sny en in waspapier toedraai. (Onthou om toe te draai).

Karamellekkers (Fudge)
200g suiker (250ml)
‘n knippie sout
200g goue stroop (150ml)
350ml room
5ml Vanilla-ekstrak

Metode
Meng die suiker, sout, stroop en 150ml room en verwarm terwyl jy roer om die suiker om te los. Kook teen lae hitte tot die “sagtebal-stadium of tot die termometer sê 115°C. Hou aan roer om te voorkom dat dit aanbrand. Voeg 100ml room by, roer en kook teen lae hitte 115°C. Voeg nou die laaste 100ml room by, roer en kook oor lae hitte tot die hardebal-stadium (120°C).

Roer die Vanilla by en gooi tot ‘n dikte van sowat 15mm in ‘n gesmeerde pan van ongeveer 120 x 180mm. Laat oornag afkoel, sny dan in 15mm-vierkante. Laat vir nog ‘n dag of twee droog word en draai toe in waspapier. Hierdie karamellekkers is ryk, geurig en sag. Onthou om dit toe te draai of in ‘n sakkie te bêre - anders word dit binne ‘n paar uur ‘n behoorlik taaierige spulletjie.