Monday 29 February 2016

Agnes se koningsmelktert



Agnes se koningsmelktert
Agnes is 86 jaar oud en bak elke week 80 melkterte.

Bestanddele

4½ eetlepel koekmeel
1 eetlepel Maizena
6½ eetlepel suiker
¼ blokkie margarien
2 stokkies kaneel
1 koppie melkpoeier
4 koppies water
3 eiers, geskei
Metode
Meng al die bestanddele, behalwe die eiers, saam.
Plaas in 'n kastrol en verhit.
Sodra dit kookpunt bereik, verwyder van die hitte en voeg die eiergele by.
Klop die eierwit styf, en voeg dit by.
Plaas in 2 tertpanne.
Bak teen 180 grade totdat melktert bruin is.


Gebruik gekoopte deeg of maak jou eie deeg.

(RSG)

Vir die skilferkorsdeeg:
500g botter
500g (4k) meel
5ml (1t) sout
2 eiergele
300ml yswater
20ml (4t) suurlemoensap of brandewyn
ekstra eierwit, vir oorverf

1. Deel die botter in drie gelyke dele en hou dit in die vrieskas.
2. Sif die meel en sout saam in ’n mengbak.
3. Klits die eiergele, yswater en suurlemoensap of brandewyn saam. Voeg dit by die meel en meng totdat ’n stywe deeg vorm.
4. Knie die deeg tot glad en elasties – sowat 5 minute lank. Laat val die deeg 100 keer op ’n meelbestrooide werkoppervlak.
5. Rol die deeg in ’n vierkant van 35cm x 35cm en rasper ’n derde van die yskoue botter oor die deeg. Vou die deeg na die middel, sye bo-oor en koppe oormekaar. (Soos ’n mens ’n laken opvou.)
6. Rol weer uit, rasper nog ’n derde van die botter oor die deeg en vou weer soos beskryf. Herhaal nog een keer om die laaste botter te gebruik. Plaas die deeg oornag in ’n plastieksakkie in die yskas.
7. Rol die deeg uit en voer twee blikborde met die deeg uit. Verf bodem liggies met eierwit.

Melktertwenke
■ Gebruik perskeblare, pypkaneel, nartjieskil, vanielje of kardemom as geurmiddel.
■ Wees spaarsamig met die amandelgeursel en gebruik ’n bietjie vanielje daarmee saam. Volgens Peter Veldsman kan drie of vier appelkoospitte saam met die melk gekook word vir ’n amandelgeur.
■ Die koskenner Lochner de Kock sprinkel gemmer oor die deegkors voordat die melktertpap ingegooi word.
■ As die eiers bleek is, gebruik ’n mespunt borrie om die vlapap se kleur te verdiep.
■ Gebruik ’n plat bord met ’n oorhangrand, soos ’n blikbord, wat die hitte goed versprei. As die blikbord baie dun is, gebruik twee borde opmekaar.
■ Rol deeg altyd net in een rigting–weg van jou af. Moenie die deeg rek nie,anders krimp dit met mening terug.
■ Vir selfs swieriger pof, plaas ’n ekstra strook deeg, sowat 4cm breed, om die rand van die tertbord (direk op die bord, of bo-oor die deegvoering). Verf yswater op sodat die deeglae kan kleef.
■ Moet liefs nie die uitgerolde deeg in borde in die yskas sit nie, want dit kan die kors aan die onderkant laat taai bak.
■ Gooi die vulsel kokend op die uitgerolde deeg om te keer dat die kors taai word.