Friday 11 December 2015

Baked Alaska




Baked Alaska

Sjokoladekoek...
• 150 g bruismeel
• 50 kakao
• 175 g bruinsuiker
• 175 g sagte botter, in blokkies gesny


• 3 eiers
• 5 ml vanieljegeursel
• 30 ml brandewyn
Verhit jou oond tot 180 °C. En nou die maklikste deel van die resep: Plaas eenvoudig al die bestanddele behalwe die brandewyn in jou voedselverwerker en meng tot ’n gladde deeg. Voer ’n 23 cm-losboomkoekpan met bakpapier en smeer dit goed met botter. Gooi die deeg in die koekpan. Bak vir 30 minute. (Die koek sal nie baie hoog rys nie.) Dis die basis van die nagereg. Haal uit die oond en gooi die brandewyn onmiddellik oor. Laat afkoel in die pan. Keer uit.
Vulsel
• 2 blikke ontpitte swartkersies
• 250 ml suiker
• 15 ml brandewyn
• 30 ml mielieblom (Maizena)
Gooi die kersies met stroop en al in ’n kastrol. Voeg die suiker en brandewyn by. Bring tot kookpunt terwyl jy roer om die suiker op te los. Prut vir so 20 minute tot die stroop met die helfte weggekook het. Meng die mielieblom met so 30 ml water tot ’n gladde pasta en voeg by. Meng goed en prut tot dit verdik het. Laat heeltemal afkoel.
Jy benodig verder
• 2 liter vanieljeroomys
• 6 eierwitte
• 180 ml strooisuiker
Verhit jou oond tot 200 °C. Voer ’n metaalbak wat 2 liter roomys kan hou met kleefplastiek. Skep die roomys daarin en plaas in die vrieskas sodat dit baie hard kan vries. Klits die eierwitte styf en voeg die strooisuiker lepel vir lepel by tot die meringue stywe punte vorm. Plaas die sjokoladekoek op ’n metaalbord of ’n ander bord wat in die oond kan gaan. Skep die helfte van die kersies bo-op – die res word saam met die nagereg voorgesit. Keer die roomys bo-oor uit en bedek die hele nagereg met die meringue. Maak seker dat daar nie ’n enkele opening is nie, nie eens ’n kleintjie nie, want dit sal die roomys laat smelt en uitloop. Sit dadelik in die oond vir 10 – 15 minute, of tot die punte van die meringue bruin raak. Sit dadelik voor met die res van die kersies.