Friday 11 December 2015

Amandelkoek




Amandelkoek
Genoeg vir 6 mense
Bereidingstyd: 20 minute
Baktyd: 45 minute
Oondtemperatuur: 200°C
Bestandele
8 groot eiers, geskei
320 g (375 ml) suiker
5 ml gerasperde suurlemoenskil

5 ml fyn kaneel
5 ml vanieljegeursel
500 ml fyngekapte geblansjeerde amandels
Bolaag
4 – 6 lemoene, geskil en in segmente gesny
25 ml rum of brandewyn
Smeer ‘n ronde 25 cm-koekpan, en strooi meel oor die bodem. Skud die ekstra meel uit. Klits die eiergele en suiker saam tot lig. Voeg die suurlemoenskil, kaneel en vanielje by. Roer die amandels bietjies-bietjies in. Klits die eierwitte in ‘n skoon bak tot dit sagte punte vorm. Vou ‘n derde van die eierwitte by die eiergeelmengsel in. Sodra dit ingevou is, kan jy die orige eierwit so liggies as moontlik invou. Skep die beslag in die koekpan en bak dit vir omtrent 45 minute in die verhitte oond, of tot ‘n toetspen skoon uitkom. Haal die koek uit die oond uit en sny met ‘n mes om die rand van die pan. Keer dit uit die pan en laat dit afkoel. Meng die rum of brandewyn met die lemoensegmente. Skep dit bo-op die koek.